Ons het dié metode vir vinnige happies op thewoksoflife.com gewaar.

1 Maak die deeg Sif die meel en geur met die sout, peper en sprietuie. Roer die olie en kookwater by en knie die warm deeg tot glad. Bedek met kleefplastiek en laat rus op die werkblad vir 30 minute. 

2 Roerbraai die groente vir die vulsel vlugtig in ’n bietjie olie tot geurig. As jy wil, kan jy nou die brandrissie, knoffel, gemmer en sojasous byroer.

3 Verdeel die deeg in 8 ewe groot balletjies; strooi ’n bietjie meel oor jou werkblad as die deeg vassit. Hou ’n bakkie sesam-olie, ’n kwassie en jou vulsel reg.

4 Rol nou een deegballetjie op ’n slag in ’n lang, dun strook uit. Verf met ’n klein bietjie olie en skep van die vulsel oor die helfte naaste aan jou. Rol nou styf op weg van jou af (sien foto) totdat jy ’n gevulde sigaarvorm het. Hou dit regop en druk dit met jou handpalm plat om ’n koekie te vorm. Sprinkel die sesam- saadjies oor en herhaal met die res van die bestanddele.

5 Panbraai die plaatkoekies in die olie tot deurgaar en goudbruin alkant. As jy bang is die deeg is buite bruin en binne nog rou, bak die koekies vir sowat 10 minute in ’n voorverhitte oond teen 180 °C. Geniet met ’n doopsousie van sojasous of soet rissiesous en ’n strooisel sprietuie en koljander.