Maak 1 x 22cm-dubbellaagkoek

Bereidingstyd: 35 minute

Baktyd: 45−60 minute 

Oondtemperatuur: 180°C

BESLAG

  • 2 eiers
  • 250ml (100g) ligbruinsuiker
  • 125ml kanola- of gesmelte klapperolie
  • 5ml rum (of vanieljegeursel)
  • 125ml fyngedrukte ryp piesang
  • 220g (1⁄2 blik) pynappelmoes met die stroop
  • 50g gemengde neute, gerooster en grofgekap
  • 60ml klapper, gerooster
  • 312,5ml (175g) koekmeel
  • 2,5ml bakpoeier
  • 2,5ml koeksoda
  • ’n knippie sout
  • 5ml kaneel
  • 2ml elk gemmer en gemengde speserye

Voorverhit die oond. Voer ’n 22 cm-veerklamppan uit met bakpapier en spuit met kleefwerende kossproei. Klits die eiers en suiker saam tot lig en donsig en al die suiker opgelos het. Meng die olie, rum, piesang, pynappel, neute en klapper in ’n bak. Sif die meel, bakpoeier, koeksoda, sout en speserye saam in ’n aparte bak. Vou die piesangmengsel en die meelmengsel om die beurt by die eiermengsel in tot gemeng, en skep in die voorbereide pan. Bak vir 45–60 minute of tot ’n toetspen skoon uitkom. Laat die koek heeltemal afkoel en sny dit versigtig in twee lae.

PYNAPPELBLOMME

Eenvoudiger as wat dit lyk, mits jy geduldig is en fyn sny.

• 1 ryp pynappel

Sny die pynappel en verwyder enige ogies (donker stukkies). Sny die pynappel nou totdat jy 12 dun skyfies het (gebruik ’n mandoliensnyer indien moontlik). Druk die skyfies goed droog met ’n skoon doek en sit dit dan in die holtes van ’n gesmeerde muffinpan. Droog uit in ’n oond teen 120 °C (gebruik die waaier as jou oond een het) vir sowat 1 uur. Loer en maak seker die blomme sit nie vas nie. Om die onderkant van die pynappelskywe ook uit te droog, haal die “pynappelbakkies” uit en bak verder onderstebo op die agterkant van die muffinpan. Die blomme hoef nie kurkdroog te wees nie, maar moet hul vorm behou.

ROOMKAASVERSIERSEL

  • 125ml sagte botter
  • 500ml versiersuiker, gesif
  • 500ml mediumvet-roomkaas
  • 5ml vanieljegeursel
  • 15ml lemmetjie- of suurlemoensap
  • gerasperde skil van 1 lemmetjie of suurlemoen

Klits die botter en versiersuiker saam tot lig en romerig. Voeg die roomkaas, vanielje en lemmetjiesap en -skil by. Klop tot net gemeng – moenie te veel meng nie, anders sal die mengsel skif. Smeer die versiersel tussen die koeklae en sit hulle op mekaar. Versier ook die kante en bokant en rond af met die pynappelblomme.