1 Begin met die vulsel Voorverhit die oond tot 180 °C. Sit die varkvleis in ’n oondvaste bak met die brandrissies, knoffel, ui en appel. Klits die sousbestanddele saam, geur na smaak met sout en peper en giet dit oor die varkvleis. Sit ’n deksel op en bak vir sowat 2 uur. Haal die deksel af, bedruip met die pansous en bak vir nog sowat 30 minute of tot rafelsag.

2 Vir die rolletjies Meng die meel, sout en koljander en roer die klappermelk by om ’n sagte, effens klewerige deeg te vorm. Gebruik jou hand om dit in die bak te knie tot die deeg bymekaarkom en keer uit op ’n meelbestrooide oppervlak.

3 Verdeel die deeg in twee gelyke dele en rol in worse. Sny elke wors met ’n skerp mes in 7 ewe groot stukke en vorm dan elke stuk in ’n mooi rolletjie. Gebruik ekstra meel soos nodig.

Maak ’n maklik vulbare gleuf in elke rolletjie deur ’n hout-eetstokkie wat met olie gesmeer is in die lengte in die rolletjie te druk en die deeg liggies rondom die stokkie te vou. Plaas dan ’n klein vierkant bakpapier in die gleuf om te help keer dat dit toestoom. Voer twee bamboes-stoommandjies met bakpapier uit en rangskik die rolletjies daarop. Giet kookwater sowat 2 cm diep in ’n dikboompan of wok en bring weer tot kookpunt oor hoë hitte. Stapel die twee mandjies op mekaar; sit die deksel op. Plaas die stomer oor die kookwater en laat stoom vir sowat 15 minute – moenie loer nie! Maak seker die water kook nie weg voor die broodjies klaar gestoom is nie.

Om voor te sit

Rafel die varkvleis (verwyder die heel rissies en gebruik soveel sous soos jy wil), meng die slaaibestanddele en vul die rolletjies daarmee. Smul dadelik!