1. Maak seker die deeg is by kamertemperatuur. Druk dit met jou hand plat en sny in 6 ewe groot stukke. Klits die botter en versiersuiker saam tot die botter lekker lig en smeerbaar is en klamp jou pastamasjien aan jou werkblad, reg om te gebruik. 

2. Stel die pastamasjien op sy dikste stelling en rol al 6 stukke deeg deur dié stelling. Gebruik ’n bietjie meel indien nodig om te keer dat dit vassit. Rol nou al 6 stukke deur die tweede grootste stelling, dan die derde en gaan so voort tot by die tweede laaste stelling. Ons pastamasjien het 7 stellings en ek het dit gerol tot by 5. Dit moet dun wees, maar nie onhanteerbaar nie.

3. Stof enige oortollige meel van die deegstroke af met ’n kwassie. Verdeel die botter tussen die 6 deegstroke en smeer dit met die agterkant van ’n lepel of met jou vingerpunte oor die deeg. 

4. Rol nou die deeg styf op met die botterlaag aan die binnekant. 

5. Rek elke kort, vet rol deeg versigtig langer en dunner deur dit so druk-druk met jou hande te bewerk tot ’n wors. Sny die deeg- wors met ’n skerp mes middeldeur oor die lengte. Rol elk van dié helftes met die gesnyde kant na buite in ’n knopie en sit dit in die gesmeerde holtes van ’n reusemuffin-pan. Herhaal met al 12 deegwors-helftes. 

6. Bedek die 12 cruffins lossies met kleefplastiek of ’n skoon vadoek en laat staan op ’n warm plek om te rys tot dubbel die volume. Dit neem sowat 1 uur en is belangrik vir ’n smelt-in-die-mond-resultaat. 

7. Bak die uitgerysde cruffins in ’n voorverhitte oond (180 °C) tot goudbruin en gaar (sowat 25 minute). Laat afkoel op ’n draadrakkie.

8. Die cruffins het nou die smaak en tekstuur van croissants; dis meer sout as soet en heerlik net so warm uit die oond. Maar jy kan dit ook na jou smaak opdollie met ’n spuit van jou gunsteling-vla, ’n sifsel versiersuiker, vars bessies en gerasperde sjokolade. Of probeer konfyt en room, of suurlemoensmeer.