1 Maak ’n dik witsous Smelt 50 g botter in ’n klein kastrol en braai 60 ml fyngekapte ui tot glansed. Voeg 1 gekapte knoffelhuisie by en braai deur. Roer 180 ml meel geleidelik by om ’n roux te vorm en braai vir 1 minuut. Vanweë die groot hoeveelheid meel sal dit amper soos growwe broodkrummels lyk. Verwyder van die hitte en klits geleidelik 250 ml warm melk en 250 ml warm aftreksel by tot dik. Sit terug op die hitte en klits vir nog ’n paar minute totdat die sous baie dik is. Geur met sout en peper.

2 Geur die roux Voeg sowat 2 x 250 ml-koppies geurmiddel by die dik witsous. Probeer bros stukkies spek en ’n lepel mosterd; fyn gaar vleis (fyngevlokte oorskietbraaihoender werk goed); gekapte gaar steurgarnale met rissie en ertjies; bros aartappelblokkies gegeur met truffelolie en parmesaankaas; of ham, mieliepitte en blokkies kaas ... net wat jou hart begeer. En onthou, gekapte kruie en ’n knippie neutmuskaat of sitrusskil doen wondere vir die geur van so ’n vulsel.

3 Vorm die krokette As die tyd toelaat, sit die vulsel vir minstens 1 uur in die yskas; dit werk makliker. Rol lepels vol van die koue, gegeurde witsous met nat hande in happiegroot stafies of balletjies. Maak seker die happies is ewe groot.

4 Krummel dit! Maak 1 pakkie (200 g) soutkoekies soos Cream Crackers fyn in ’n voedselverwerker en keer uit in ’n bakkie; of gebruik gedroogde broodkrummels of Pankokrummels. Klits 3 eiers saam in ’n tweede bakkie. Doop nou die gevormde krokette eers in die krummels, dan in die eier en dan weer in die krummels. Pak hulle uit op ’n bord tot almal klaar is.

5 Diepbraai Verhit genoeg groente-olie in ’n kastrol vir diepbraai. Toets die hitte van die olie met ’n blokkie brood: Sodra dit op die oppervlak dryf en binne ’n paar sekondes bruin braai, is die olie reg. (As jy ’n termometer gebruik, is 180°C die perfekte temperatuur.) Braai ’n paar krokette op ’n slag tot goudbruin. Dreineer op kombuispapier.

In kuierkolle dwars oor Spanje word “croquetas” voorgesit as die allerlekkerste peuselhappie saam met ’n glas wyn. Sodra jy die witsousbasis onder die knie het, kan jy self besluit hoe luuks jy jou happies wil geur. Geniet dié heerlike happies saam met skemerkelkies; twee of drie per porsie maak ’n heerlike voorgereg; of sit vier tot ses per porsie voor as ligte ete saam met ’n lekker slaai. Kies ’n doopsousie wat by jou vulsel pas vir ekstra lekker.