1. Broodjies en vissies

Skeur of sny 6 snytjies ciabatta in blokkies. Geur met ’n gekapte knoffelhuisie, ansjovissies, suurlemoenskil, tiemie, sout en peper en klam aan met olie. Rooster in ’n voorverhitte oond teen 200°C tot bros. Maak fyn in ’n voedselverwerker.

2. Groente ook

Sny ’n mediumgroot eiervrug in dun skyfies en braai op ’n riffelpan tot gaar met mooi roosterlyne alkante. Geur met sout, peper en ’n leksel goeie olie.

3. Laag op laag

Vlek ’n ontbeende lamsboud van sowat 850 g versigtig met ’n skerp mes; sit die vleis met die vetkant na onder op ’n kapplank en kap dit met ’n vleishamer tot oral ewe dik. Pak ’n laag van die gebraaide eiervrugskyfies, sowat 125 ml broodkrummels, 1 sirkel feta en gekapte pikantrissies na smaak bo-op.

4. Alles bymekaar

Rol die lam op en bind vas met kombuistou, sowat 2 cm uitmekaar. Smeer die vleisrol met olie, sout en peper.

5. Pan toe

Braai die vleis oraloor goudbruin in ’n warm pan.

Onthou Hoe gaarder die lam is voordat dit in die deeg toegevou word, hoe gaarder gaan die vleis in die pastei wees. Laat koud word en verwyder die tou.

6. Vir die deegdop

Vou sowat 600 g blaardeeg oop op ’n skoon oppervlak en rol effens dunner. Strooi ’n laag van die oorblywende geurige broodkrummels oor – dit sal van die vleissappe absorbeer terwyl dit bak. Rol die vleis in die deeg toe; sny enige oortollige deeg af, knyp die punte toe en sit op ’n bakplaat met die naat na onder. Verf met geklitste eier en versier met deegblaartjies. Sit in die yskas terwyl die oond voorverhit tot 220 °C.

Ta-da!

Bak vir 15 minute, draai die oond af na 180 °C en bak vir nog 45 minute tot die deeg goudbruin en bros is aan die buitekant.

Die vleis by die punte van die pastei is nou goed gaar terwyl die binneste mooi pienk en sappig is. So kan jy gerus wees daar’s ’n skyfie vir elke smaak aan tafel.