Genoeg vir: 6–8 porsies
Bereidingstyd: 1–1½ uur
Oondtemperatuur: 180 °C
Gaarmaaktyd: 20–25 minute

Bestanddele 

DEEG

  • 450 g (800 ml) koekmeel
  • 5 ml sout
  • 250 g koue botter, in blokkies gesny
  • sowat 90 ml yswater

VULSEL

  • 45 ml olyfolie
  • 1 ui, fyngekap
  • 2 vet knoffelhuisies, gekneus
  • 400 g hoenderborsfilette, in klein blokkies gesny
  • 200 g chorizo, in dun skyfies gesny
  • 1 rooi brandrissie, gekap
  • 5 ml paprika
  • 1 x 400 g-blik gekapte tamaties
  • gerasperde skil en sap van een lemmetjie
  • sout en swartpeper na smaak
  • ’n hand vol vars koljanderblare
  • 1 eier, geklits

So maak jy

1. Berei die deeg Sit die koekmeel, sout en botter in ’n voedselverwerker en verwerk totdat dit soos broodkrummels lyk. (As jy nie ’n voedselverwerker het nie, kan jy die botterblokkies met jou vingerpunte in die meel vryf.) Voeg die yswater by en pols die voedselverwerker totdat al die bestanddele in ’n deegbal saamkom. Bedek die deeg en sit dit in die yskas terwyl jy die vulsel maak.

2. Berei die vulsel Verhit die olyfolie in ’n middelslag-kastrol en braai die ui tot sag en glansend. Voeg die knoffel by en braai vir nog ’n minuut; skep die uimengsel uit en hou dit eenkant. Braai die hoenderblokkies tot goudbruin aan alle kante. Voeg die chorizo-skyfies by en braai totdat dit begin verkleur. Voeg die uimengsel, brandrissie, paprika en tamaties by. Geur die mengsel met lemmetjieskil en -sap, sout en swartpeper. Laat dit sonder ’n deksel prut vir sowat 15 minute sodat die sous kan verdik. Wag dat die mengsel heeltemal afkoel en roer dan die koljanderblare by.

3. Voorverhit die oond tot 180 °C. Rol die deeg op ’n meelbestrooide oppervlak uit tot 2,5–3 mm dik. Sny die deeg in sirkels van sowat 12 cm in deursnee (gebruik ’n piering hiervoor).

4. Skep die vulsel (ongeveer 30 ml) op die een helfte van die deeg – nie te veel nie, anders loop dit uit. Vou die ander helfte van die deeg oor die vulsel en druk die rand vas deur dit met jou vingers saam te knyp.

5. Pak die pasteitjies op ’n gesmeerde bakplaat, verf geklitste eier oor en bak vir 20–25 minute of tot goudbruin. Sit die empanadas warm voor.