Genoeg vir 12

Bereidingstyd 30 minute

Gaarmaaktyd 1 uur 15 minute

PAP

  • 1 liter water
  • 5 ml seesoutvlokkies
  • 500 ml mieliemeel
  • 60 ml sagte botter
  • 1 blik (400 g) mieliepitte, gedreineer

BOLAAG

  • 1 blik (400 g) Braai Relish of tamatie-en-uiesmoor
  • 200 g dwergsampioene, gekap en gebraai
  • 200 g spekstukkies, bros gebraai
  • sowat 350–500 ml room
  • 250 ml gerasperde kaas

1 Bring die water en sout tot kookpunt; klits die mieliemeel by. Verlaag die hitte en laat prut tot die pap dik is. Ek staan maar en roer sodat die pap nie aanbrand nie, maar jy kan dit ook met die deksel op laat stoom vir sowat 15 minute en net af en toe roer. As jy dink die pap is te droog, tjirts nog ’n bietjie water by. Sodra die pap lekker dik is, roer die botter en die mielies by jou stywe pap, proe vir sout en peper en verwyder van die hitte.

2 Verdeel die pap in porsies terwyl dit nog warm is deur groot lepels vol op ’n groot kapplank of ander skoon werkoppervlak te skep. Laat die pap afkoel tot hanteerbaar, druk die porsies dan in netjiese balle en rangskik knus in ’n gesmeerde vuurvaste oondbak.

3 Voorverhit die oond tot 180°C. Meng die Braai Relish, spek en die sampioene en skep dit oor die papballe sodat dit mooi eweredig versprei is. Giet genoeg room oor om die pap goed te bedek; bak vir 45 minute.

4 Strooi die kaas oor die tert en bak vir nog 15 minute. Of span die roosterelement in om die kaas te laat smelt totdat dit borrel.