Vooraf

Voorverhit die oond tot 180 °C. Sif die meel, bakpoeier en sout saam. Voeg die suiker by en meng. Vryf die botter met jou vingers by die meelmengsel in en voeg die eiers by. Meng tot ’n sagte deeg. Verdeel die deeg in 7 eweredige stukke (gebruik jou skaal om dit te weeg) en plaas dit in ’n lugdigte houer sodat dit nie uitdroog terwyl jy werk nie.

1. Maak die korslae Dop twee 20 cmkoekpanne om. Smeer en voer die bodem uit met bakpapier (ja, die bodem se onderkant, sien foto). Rol ’n stuk deeg op ’n omgekeerde pan uit en sny die rand netjies af. Herhaal met die ander koekpan en bak die korse so op die onderstebo panne tot ’n ligbruin kleur – sowat 15 minute. Laat effens afkoel, glip die korse versigtig met ’n eierspaan van die bakpapier af en laat dit afkoel op ’n draadrak. Herhaal met die res van die deeg totdat jy altesaam 7 gebakte korse het. Smeer of spuit die panne elke keer voordat jy die deeg daarop uitrol.

2. Dan die karamellaag Klits 250 ml van die room styf. Voeg die kondensmelk en mascarpone by en klits tot net-net ingemeng. Moenie te lank klits nie, anders raak dit te loperig. Laat rus die mengsel in die yskas om stewiger te raak voordat jy die tert begin saamstel.

3. Maak die ganache Verhit die oorblywende 250 ml room en smelt die donkersjokolade daarin. Roer dit deurgaans oor lae hitte en wees versigtig dat dit nie oorverhit nie. Verwyder die kastrol van die hitte wanneer amper al die sjokolade gesmelt is. Die room en kastrol se hitte sal die res laat smelt. Laat die sjokolademengsel afkoel en sit dit in die yskas tot yskoud en smeerbaar. Smeer die sjokoladeganache versigtig oor die korslae sodra jy gereed is om die tert saam te stel.

4. Stel saam Plaas die eerste koeklaag in ’n 22cm-losboomkoekpan. Smeer ’n laag karamelmengsel oor en maak gelyk. Sprinkel ’n bietjie gerasperde Peppermint Crisp oor. Plaas die volgende koeklaag bo-op, smeer weer ’n laag karamelmengsel oor, gevolg deur gerasperde Peppermint Crisp. Herhaal totdat al die koeklae opgebruik is. Laat staan oornag in die yskas sodat die koeklae kan sag word en die tert kan stol. Glip die tert uit die koekpan, versier met geklopte room en sny in skywe.

Wenke
  • Maak seker al die bestanddele is koud voordat jy die tertlae op mekaar begin pak.
  • Smeer die lae versigtig en hanteer hulle ook versigtig omdat hulle baie bros is en maklik breek.
  • Weerstaan die versoeking om te veel vulsel op elke laag te smeer – dit gaan net langs die kante uitpeul.
  • Die yskastert sal makliker sny as dit ’n rukkie gestaan het sodat die vulsel die koeklae kan sag maak.