1. MELK-EN-KOEKIES

Laat 2 liter vanieljeroomys effens sag word. Skep twee derdes uit (vries die res weer) en voeg 12 gekrummelde Oreo’s by. Meng en skep in ’n groot metaal- of glasmengbak wat met kleefplastiek uitgevoer is (maak seker die bak pas in jou vrieskas). Smeer dit eweredig teen die kante van die bak uit. Werk vinnig en sit dit dadelik in die vrieskas. 

2. PIESANGPLESIER

Sny 4 groot, ryp maar nog ferm piesangs in skyfies en pak dit in ’n laag bo-op die koekielaag. Sprinkel ’n hand vol sout- grondboontjies en ’n paar glanskersies oor as jy dekadent voel – dis immers jou skepping! Sodra die roomys sy vorm behou, gaan voort met die volgende laag; indien nie, bevries dit nog ’n rukkie. 

3. SJOKOLADE

Vir die volgende laag het jy sowat 2 liter sjokoladeroomys nodig. Skep die roomys in lang repe uit met ’n plat lepel en pak dit bo-op die grondboontjies – dis makliker as om sagte roomys te probeer smeer. Strooi ’n lagie sjokoladekoekiekrummels oor om dit in plek te help hou en sit weer in die vrieskas tot dié laag ook hard is. 

4. SOUTKARAMEL IN DIE MIDDEL

Klits 250 ml room en 1 blik karamel saam tot dik en glad. Geur met ’n knippie seesout en skep in die middel van die roomysvorm. Vries tot hard. 

5. KLAPPERDOP

Vul die bak op met die oorblywende vanieljeroomys. Gebruik dit net so of dollie dit op met klapper en glanskersies. Strooi ’n laaste laag koekiekrummels oor en druk vas. Dit gee die bom ’n mooi bodem wanneer jy dit uitkeer. Vries oornag. 

6. DIE DOODSKOOT

Smelt donkersjokolade met ’n klein lepel klapperolie (dit giet dan makliker). Vou klam, warm vadoeke oor die roomysbak sodat die bom makliker loskom; keer uit op ’n dienbord. Giet die sjokolade oor en versier met lekkernye soos piesangskyfies, mini-malvalekkers en glanskersies.