Dié heerlike, sagte rafeltjievleis is ideaal as vulsel vir taco’s, wraps of broodrolletjies. Dis ook lekker in ’n gebakte aartappel saam met ’n lepel suurroom. Of geniet dit net so met slaai.

  1. Voorverhit oond tot 160 °C. Gebruik ’n skerp mes en sny ’n diamantpatroon net-net deur die swoerd van die varkboud. Meng die olyfolie, sout, swartpeper, paprika, komyn, mosterdpoeier, brandrissies en bruinsuiker in ’n bakkie. 
  2. Sit die uie, wortels en lourierblare in ’n oondbak en plaas die varkboud bo-op, met die vetkant na bo. Skep of vryf die gegeurde olyfoliesmeer oor die boud. Giet die groente-aftreksel langs die boud in die bak en maak stewig toe met aluminiumfoelie. Sit in die oond vir 4 uur.
  3. Verwyder die foelie ná 4 uur en sit die oondbak met die boud terug in die oond vir nog 1–2 uur of totdat die vleis sag is. Giet die pansous af in ’n klein kastrol en kook dit af.
  4. Verwyder die swoerd van die boud en pluis die varkvleis met twee vurke. Giet die afgekookte sous oor die vleis en meng deur.
  5. Om voor te sit Skep die vleis op ciabatta-rolletjies en skep die koolslaai bo-op. Indien verkies kan jy agurkies in dun skyfies sny en/of granaatpitte by die slaai voeg.