Genoeg vir 6–8

Bereidingstyd: 30 minute, plus 30 minute marineertyd

Gaarmaaktyd: 3 uur

1 Sny ’n 1,6kg-varkbladstuk met ’n skerp mes in skywe van 1,5cm dik. Vra jou slagter vir ’n soliede ontbeende roosterstuk, sonder swoerd en met ’n egalige lagie vet. (As jy mooi vra, sal hy dalk sommer die snywerk vir jou afhandel met sy skerp mes.)

2 Maak die marinade: Meng 125 ml vars lemoensap, 125 ml vars suurlemoensap, 125 ml gemmerbier, 15 ml gerookte paprika, 5 ml elk fyn komyn, koljander en rissiepoeier, 10 ml uievlokkies, 3 gekneusde knoffelhuisies, 5 lourierblare, 5 ml seesoutvlokkies en 5 ml gestampte peperkorrels en ’n brandrissie; giet die marinade oor die vleis en meng deur.

3 Laat die vleis vir sowat 30 minute marineer. Nou is die perfekte tyd om jou vuur aan te steek en die kole eksieperfeksie te kry.

4 Ryg die vleisskywe op ’n ekstragroot kebabstokkie en druk al die knoffel, lourierblare en uievlokkies wat in die bak agterbly tussen die stukke vleis in. Druk ’n halwe lemoen op die punt van die stokkie en sit die lot in die draadmandjie van jou elektriese rotisserie.

5 Braai nou die vleis vir sowat 3 uur oor matige kole terwyl dit stadig oor die hitte draai. Meng sowat 30 ml srirachasous deur die oorblywende marinade en bedruip die vleis so elke 30 minute daarmee.

6 Verwyder die vleis van die kole en kerf die sappige, goudbruin gebraaide varkvleis parallel met die kebabstokkie in flenters en sit dit voor met ’n vars slaai in geroosterde tortillas of pitabrode. ’n Salsa gemaak met ryp avokado, blokkies soet pynappel, gekapte koljander, rooi ui en komkommer is heerlik hierby. Geniet dit!

*Sonder ‘n rotisserie ’n Elektriese rotisserie is nie noodsaaklik nie. Braai jou varkblad net rustig oor matige kole en draai dit gereeld om. As jy ’n braaiketel het, maak die deksel toe en hou die temperatuur dop – 160°C is ideaal. Óf rooster die vleis in die oond en draai na goeddunke.