1 Sif die meel, kakao, bakpoeier en sout saam in ’n mengbak. Meng die karringmelk en botter in ’n tweede bakkie en hou gereed. Klits die eiers en suiker saam tot lig en donsig. Klits nou eers die karringmelkmengsel by die eiermengsel, en meng dan die meel by om ’n gladde deeg te vorm.

2 Vorm die deeg in ’n plat skyf en bedek met kleefplastiek. Verkoel in die yskas vir 30 minute. Dié stap is opsioneel, hoewel verkoeling die deeg fermer en makliker maak om mee te werk, terwyl die plat vorm beteken die deeg is sommer gereed vir rol wanneer dit uit die yskas kom.

3 Verwyder die plastiek en rol die deeg sowat 1,5 cm dik uit op ’n meelbestrooide oppervlak. Druk sirkels uit met ’n 5cm-ronde koekiedrukker en sny dan ’n gaatjie in elkeen met ’n 2cm-ronde koekiedrukker. Rol die klein bolletjies mooi rond en braai hulle ook, of maak saam met die oorskietdeeg plat om nog oliebolle uit te sny.

4 Verhit die olie in ’n diep kastrol. Gebruik ’n stukkie oorskietdeeg om die temperatuur te toets – sodra dit begin dryf en borrels maak, is die olie reg. Braai twee of drie bolle op ’n slag tot alkant gaar en uitgerys. Reguleer die temperatuur en draai die hitte af as dit lyk of die oliebolle te vinnig braai. Dit moet deurgaar bak in die olie. Dreineer op kombuispapier en herhaal tot al die deegringe en -bolletjies gebraai is.

5 Versier! Doop jou oliebolle in gesmelte sjokolade, glaseersel, karamel of kaneelsuiker. Jy kan so rojaal of eenvoudig mooimaak soos jy wil. Geniet die oliebolle so gou moontlik nadat hulle gebak is.

Versiersel

Maak ’n maklike sjokoladeglaseersel deur 250 ml gesifte versiersuiker met ’n lepel kakao en ’n knertsie vanielje te meng. Voeg ’n lepel of twee melk by en meng tot glad en smeerbaar.

Vir aarbeiversiersel meng jy 250 ml gesifte versiersuiker met ’n paar druppels pienk kleursel en aarbeigeursel tot glad en smeerbaar; verdun met melk indien nodig.

Vir wit versiersel, meng ’n bietjie gesifte versiersuiker met ’n paar druppels vanieljegeursel en net genoeg melk om dit glad en smeerbaar te maak.

Onthou ook die strooiversiersel!