1. Verf 6 ramekins met die gesmelte botter en sif die kakao oor die botter. Keer die ramekins onderstebo en klop die oortollige kakao uit. 

2. Smelt die donkersjokolade en die botter saam oor lae hitte op die stoof of in die mikrogolfoond. Moenie dat dit oorverhit nie. Laat staan dan vir 10 minute om af te koel. 

3. Klits die eiers, eiergele en strooisuiker saam in ’n aparte mengbak totdat die mengsel lig en donsig is. Dis gereed wanneer dit ’n dik tekstuur het. 

4. Sif die meel by die geklitste eier en strooi- suiker en klits tot glad en gemeng. Giet die sjokolademengsel by en roer deur tot net gemeng. Roer dan die gekapte sjokolade by. Giet die beslag in die ramekins en sit dit in die yskas vir 30 minute. 

5. Voorverhit die oond tot 180°C. Sit die ramekins op ’n bakplaat en bak vir sowat 10 minute tot die beslag ’n kors bo-op gevorm het en van die kante begin wegtrek. Haal die ramekins uit die oond en laat hulle vir 1 minuut afkoel voor jy die fondant versigtig uitkeer. 

Wenke

• Moenie te haastig wees om die poedings uit te keer nie, anders gaan hulle breek.

• Gebruik ’n skerp mes om die kante los te maak voordat jy dit uitkeer.

• Jy kan die poedings ’n paar uur vooraf maak en dit in die yskas hou tot net voordat jy dit wil bak.

• Jy kan ook die ongebakte beslag in die ramekins vries en dit sommer reguit uit die vrieskas in die oond bak. Voeg dan net sowat 5 minute by die baktyd.

• Die poedings vries ook uitstekend as dit reeds gebak is. Ontdooi en verhit in die mikrogolf voordat jy dit voorsit.

• Sit jou fondant voor met roomys, koue room of versoete mascarpone.