Genoeg vir 8 as ligte ete 

Bereidingstyd: 25 minute

Gaarmaaktyd: 1 uur 

Oondtemperatuur: 180 °C

1 kg middelslag-aartappels, geskrop  

4 salotte, fyngekap en gebraai  

8 repe spek, gekap en brosgebraai

2 knoffelhuisies, fyngekap

30 ml sagte kruie soos platblaarpietersielie, dragon en kerwel, fyngekap 

250 ml suurroom of crème fraîche 

• sout, peper en neutmuskaat

600 g blaardeeg, ontvries 

1 eiergeel 

1 Voorverhit die oond. Sny die aartappels met ’n skerp mes of mandolien in baie dun skyfies. Bedek met water in ’n kastrol, bring tot kookpunt en kook vir sowat 10 minute of tot net sag. 

2 Dreineer die aartappels versigtig en druk droog met ’n skoon vadoek. Meng die gaar aartappel-skyfies met die gebraaide salotte, spek, gekapte kruie en die suurroom en geur goed na smaak met sout, peper en neutmuskaat. 

3 Voer ’n 23 cm-losboomtertpan uit met die helfte van die blaardeeg sodat dit effens oor die pan se rand hang. Pak lagies van die aartappelmengsel in die tertdop tot stampvol.  

4 Verf die rand van die deeg met eiergeel en sit die tweede vel blaardeeg bo-op. Druk die twee deeglae stewig op mekaar, sny enige oortollige deeg weg en knyp die deeg reg rondom vas om goed te seël.

5 Sny met ’n skerp mes kruisies in die bokant van die deegdop en verf die hele pastei met eiergeel. Bak vir 30 minute op die onderste rak van die oond sodat die onderkant van die pastei kan deurbak. Skuif die pastei na die middel van die oond en bak nog 30 minute. Laat staan die pastei 15 minute voor jy dit voorsit.

Variasies
As jy bang is die onderste laag deeg van die pastei bak nie deur nie (jy ken jou oond die beste!) oorweeg om die deegdop blind te bak voor jy dit met aartappel vul. Anders kan jy die vulsel in ’n mooi tertbak pak en net 1vel deeg bo-op sit. Gebruik liefs deeg gemaak met regte botter vir die beste resultaat.