1. Kry al die bestanddele reg Begin met vier mediumgroot Mediterreense aartappels (sowat 350 g), ’n klein ui, ’n eier, ’n bossie dille of jou gunsteling- sagte krui, sowat 50ml bruismeel, sout en peper en gesmelte botter* vir braai. 

*Hoekom die botter smelt?

Koekies wat in botter gebraai is, het ’n heerlike geur. Maar omdat gewone botter ’n redelik lae rookpunt het, is dit geneig om baie vinnig in die pan bruin te word en te brand.

Een manier om die rookpunt te verhoog, is deur ’n skeut olie by die botter te voeg. Anders kan jy die botter verhelder, wat die water daarin laat verdamp en die melkstowwe van die bottervet skei. Sonder die melkstowwe lewer dit beter resultate by hoër hitte.

Maak jou eie deur ’n homp botter (verkieslik ongesout) in ’n maatbeker in die mikrogolf te smelt en dan enige melkerige skuim bo-op af te skep. Die res sal ná ’n ruk skei in helder bottervet en melkstowwe wat afsak na onder. Gebruik net die helder bottervet vir braai. 

2. Skil die aartappels en ui; rasper dit dan grof in ’n mengbak wat met kaasdoek of ’n skoon vadoek uitgevoer is. 

Wenk Vir variasie, vervang een aartappel met dieselfde hoeveelheid gerasperde patat, murgpampoentjies of selfs pampoen. 

3. Druk dan met behulp van die doek al die vog uit die groente – dit verbeter die tekstuur van die koekies wanneer dit gebraai word. 

4. Sit die droë groente in ’n skoon mengbak en voeg die eier, kruie, meel, sout en peper na smaak by. Meng tot ’n beslag vorm. 

5. Braai nou lepels vol van die aartappelmengsel in die botter in ’n kleefvrye pan tot goudbruin en bros alkante. Dit is belangrik om die hitte te beheer en nie die koekies te brand voordat dit deurgaar is nie – kleiner skeppies werk beter. Die beslag maak sowat 12 latkes. 

Opdienvoorstel

Repies gerookte forel en roomkaas; avokado, agurkies en kersietamaties; of repies gerookte ham en skyfies suurlemoen is heerlik met latkes. 

Rösti of latke?

Die twee koekies, albei met gerasperde aartappel as hoofbestanddeel, lyk baie dieselfde, maar verskil tog. Byvoegings soos brosgebraaide spek, gerasperde ui, kaas en vars kruie sorg vir groot variasie in albei!

• Latkes word gemaak van rou aartappel en daar word bindmiddels soos meel (soms Matso-meel) en eier bygevoeg. Dié tradisioneel klein gebraaide koekies word dikwelstydens die Joodse Chanoeka geniet met appelsous.

• Vir rösti word die aartappel gewoonlik so ’n bietjie vooraf gekook. Dit het ’n Switsers-Duitse oorsprong en word in die vorm van klein koekies of as ’n pangrootte-koek in skywe voorgesit.