Bak self ’n koek of koop ’n eenvoudige een met effekleurige versiersel op en span ’n slag daai spuitsak in wat nou al hoe lank in ’n laai lê. Dit mag ’n bietjie oefening verg, maar gelukkig kan jy ’n flop terug in die spuitsak skep en weer probeer...

1 Maak die versiersel 

BASIESE BOTTERVERSIERSEL

  • 100g sagte botter
  • 500ml (250g) versiersuiker, gesif
  • 10ml vanieljegeursel
  • sowat 25ml melk
  • voedselkleursel (opsioneel)

Klop die botter en suiker saam tot lig en donsig. ’n Elektriese klitser of staanmenger maak die taak baie makliker as om met die hand te probeer. Voeg die vanielje en net genoeg melk by om die mengsel lig en romerig te maak. Nou kan jy die versiersel in verskillende bakke verdeel en versigtig ’n paar druppels voedselkleursel by elkeen meng om die kleure van jou blomtuin te verkry.

2 Vul die spuitsak

  • Sit die spuitpunt van jou keuse onderin die spuitsak sodat dit stewig in posisie is.
  • Gebruik ’n glasmaatbeker of -fles om die spuitsak in staan te maak met die punt na onder. Vou die oop kant oor die beker se rand; dit help dat jy die versiersel maklik inskep sonder om te veel lugborrels vas te vang én dit hou die sak se bokant skoon.  
  • Maak die spuitsak hoogstens twee-derdes vol. ’n Té vol sak werk moeilik. As jy meer as een kleur versiersel wil gebruik, skep elke kleur in ’n aparte spuitsak.
  • Druk die lug uit en draai die bokant van die sak styf toe voor jy die blomvorms begin uitdruk. Hou altyd die sak aan die bokant met jou skryfhand vas terwyl jy druk, en die onderste punt met jou ander hand. Druk die blomme uit op ’n vel bakpapier of skoon kapplank wat in die yskas pas. 
  • Volg die tegniek vir elke blom hieronder en sit die gevormde blomme in die yskas om te verhard.

3 Spuit die blomme

Dis makliker as wat jy dink en daar is soveel moontlikhede!

Botterblom

BOTTERBLOM

  • Vul ’n spuitsak met ’n sterpunt met botterversiersel in die kleur van jou keuse.
  • Hou die spuitpunt op een plek naby die oppervlak. Druk nou die versiersel van die agterkant van die spuitsak met konstante druk sonder om die sak op te lig totdat daar ’n stervormige botterblom rondom die punt vorm. Sodra die “ster” na jou sin lyk, hou op druk en lig die punt versigtig op. Herhaal vir nog blomme en probeer om almal ewe groot te maak.
  • Om jou blom af te rond kan jy ’n tweede spuitsak met ’n klein, ronde spuitpunt en geel versiersel gebruik vir ’n geel kolletjie in die middel; of gebruik gekoopte versierselballetjies.
Roos

Roos

  • Vul ’n spuitsak met ’n sterpunt met botterversiersel in die kleur van jou keuse.
  • Hou die spuitpunt naby die oppervlak, druk die sak van agter en laat die versiersel stadig "val" (met ander woorde, jy hou nie die punt in die versiersel soos met die botterblommetjies nie); beweeg die sterpunt dan rondom die middelpunt in een egalige spiraal om die roos te vorm. Om af te eindig, hou op met druk en lig die punt weg van die spiraal. As die eindpunt te opsigtelik is, kan jy dit glad maak met die agterkant van ’n teelepel, maar moet liefs nie te veel karring nie. 
Krisant

Krisant 

  • Vul ’n spuitsak met ’n halfmaan-riffelpunt met botterversiersel in die kleur van jou keuse. Hou die spuitsakke wat jy vir die rose en botterblomme gebruik het byderhand as daar nog ’n bietjie versiersel daarin oor is; jy gaan dit hier gebruik.
  • Begin met ’n mini-semelkoekie of -Mariebeskuitjie as basis en maak eerste die buitenste blare.
  • Hou die spuitpunt naby die rand van die koekie en hou die spuitsak só vas dat die spuitpunt-opening se ronding na buite wys. Druk nou saggies aan die agterkant van die spuitsak en lig die punt op na die buitekant van die blom in ’n egalige beweging. Hou op spuit sodra die blaar lank genoeg is. Herhaal al om die rand vir die lang buiteblare.
  • Spuit dan met dieselfde tegniek ’n tweede ry blomblare wat effens korter is net binne die buiteblare. Om die blom af te rond, gebruik die sterpunt-spuitsak in die roos- of botterblom- kleur en maak ’n klein ster in die middel. Versier verder met ’n paar versierselballetjies as jy wil.

4 Versier die koek

Lig die verkoelde blomme een vir een met ’n paletmessie of ’n bottermes van die bakpapier af en plaas hulle in ’n krans bo-op die koek. Ons het blare bygesit om die gapings te vul. Gebruik dieselfde tegniek en halfmaan- riffelpunt as vir die krisante om groen blare hier en daar tussen die blomme te spuit. Strooi ook ekstra versierselballetjies oor.