1. Plaas die vleis op ’n skoon kapplank en slaan dit effens platter en dunner met ’n vleishamer. Wees versigtig om nie te hard te slaan nie. Die vleis moet sowat 3-5mm dik wees. 

2. Marineer die schnitzels vir sowat 5 minute in suurlemoensap voor jy hulle bedek.

3. Klits die eiers en water en voeg sowat 30 ml olie by. Klits tot gemeng. Die olie help dat die krummels kleef en verseker ’n bros resultaat. Druk die gemarineerde vleis droog met kombuispapier en bedek die vleis alkante met gegeurde meel. Skud oortollige meel af. Doop die meelbedekte vleis in die eier en laat die oortollige eier afdrup voordat jy die vleis laastens in die broodkrummels doop om dit oraloor te bedek. Druk die krummels effens vas met jou hand en plaas dan die krummelbedekte schnitzels vir minstens 30 minute in die yskas. 

4. Verhit die oorblywende 120 ml olie in ’n braaipan tot warm, en braai een tot twee schnitzels op ’n slag tot goudbruin alkant. Dit word gou gaar. Moenie die schnitzels oorgaar maak nie – sowat 1-2 minute aan elke kant is oorgenoeg. Plaas die gaar schnitzels langs mekaar in ’n oondpan in ’n louwarm oond terwyl die ander gebraai word. Sit voor met skyfies en garneer met suurlemoenwiggies. 

Wenke

• Dis wys om die gekrummelde schnitzels vir minstens 30 minutein die yskas te laat staan sodat die eier kan hard word om te verseker dat die krummellaag nie afval terwyl dit gaargemaak word nie.

• Party mense bedek hul schnitzels met fyn broodkrummels, terwyl ander droe¨ krummels verkies. Onthou net dat die krummels eers gesif moet word sodat die krummels ’n eweredige lagie vorm wat egalig sal verbruinas dit in die pan gebraai word. Krummels wat te groot is, word vinniger bruin en kan selfs brand terwyl die ander nog nie eens bruin is nie.

• Jy kan die kalfsvleis met varkvleis of selfs hoenderborsfilette vervang vir dieselfde resultate.