1. Berei die panna cotta Plaas die gelatienvelle in ’n bakkie en giet ’n bietjie koue water oor. Laat staan vir 5 minute om te versag; druk dan die oortollige water saggies uit. Sit die sagte gelatienvelle in ’n skoon bakkie en giet die warm water oor sodat dit kan oplos.

2. Verhit die room, strooisuiker, witsjokolade en vanieljesaadjies oor lae hitte. Roer deurgaans totdat die sjokolade gesmelt is. Verwyder dit dan van die plaat en laat die mengsel vir ’n paar minute afkoel voordat jy die opgeloste gelatien byroer.

3. Laat lê opdienglase teen 45° in ’n muffinpan (plaas kombuispapier in die holtes om te keer dat die glase teruggly). Giet die panna cotta-mengsel in die glase en laat stol vir 3–4 uur of oornag in die yskas. 

4. Berei die mousse Plaas die gekapte donkersjokolade en melk in ’n kastrol oor lae hitte en roer tot ’n gladde mengsel vorm. Pasop dat dit nie brand nie. Verwyder van die hitte en laat effens afkoel. Klits die room in ’n aparte bak tot sagte punte vorm. Hou eenkant.

5. Klits nou die eierwitte tot sagte punte vorm terwyl jy die strooisuiker geleidelik byvoeg. Hou aan met klits tot blink en styf. Vou nou die eierwitmengsel by die donkersjokolade in, gevolg deur die room.

6. Giet die mousse versigtig oor die gestolde panna cotta en laat stol weer vir 3–4 uur of oornag in die yskas. Sit voor met bessies, sjokoladesplinters en ’n bietjie gesifte kakao.