1. Kry die bestanddele gereed

Maak sowat 24 wonton-pakkies

Vulsel

Meng die volgende bestanddele in ’n bakkie, reg vir gebruik: • sowat 200 g varkmaalvleis* • 2 sprietuie, gekap • 1 cm vars gemmer, geskil en fyngerasper • 15 ml sojasous • ’n knippie witpeper • 15 ml sesamolie • vars rissie na smaak * Gevlokte gaar braaihoender, roomkaas, steurgarnale, kapokaartappel of gaar sampioene is heerlike plaasvervangers vir die varkmaalvleis. 

In ’n driehoek

Vul-en-vou

Bedek die klaar gevormde happies (ook die ekstra deeg) met ’n klam doek om te keer dat dit uitdroog terwyl jy werk. Druk al die lug uit terwyl jy vou – die deeg moet teen die vulsel wees, anders kan die pakkies oopgaan tydens gaarmaak. Skep ’n teelepel vol van die vulsel op ’n vierkantige deegvelletjie. Maak die rande nat met ’n kwassie of jou vinger. Vou in ’n driehoek en druk die rande versigtig vas. Maak nou die lang sy van die driehoek nat, vou die punte oor mekaar en druk vas.

In ’n vierkant

Begin soos met die driehoek, maar vou die vier punte van die vierkant na die middel van die vulsel. Werk al in die rondte en plak die sye twee-twee aan mekaar sodat dit ’n kruis vorm terwyl jy al die lug rondom die vulsel laat ontsnap. 

In ’n halfmaan

Skep ’n teelepel vol vulsel op ’n ronde deegvelletjie. (As jy net vierkante het, sny dit rond met ’n koekiedrukker.) Gebruik ’n kwassie of jou vinger en maak die rand reg rondom nat, vou toe in ’n halfmaan maar druk net bo in die middel vas. Vou nou die voorste deegrand net regs van die middelpunt in ’n plooi na links (sien foto); druk die plooi vas en maak dan nog so ’n plooi regs van die eerste een. Verseël die rand regs. Herhaal aan die linkerkant.

Let wel:
Wonton-deegvelletjies word meestal by Chinese kossupermarkte verkoop. Vra ook by jou naaste deli of loer in die vrieskas by kleiner spesialiswinkels.

Stoom voort

Verhit ’n ruim skeut sonneblomolie in ’n groot platboompan of kastrol met ’n deksel. Braai jou deegbondeltjies in ’n enkellaag totdat hulle goudbruin aan die onderkant is (sowat 1 minuut). Voeg sowat 125 ml water by die pan en sit dadelik die deksel op. Laat die deegbondeltjies sowat 3 minute lank so stoom.

Haal die deksel af en laat die oortollige vog wegkook. Sit voor met jou gunsteling-doopsous – gekoopte rissiesous of hoisinsous, of ’n kombinasie van sojasous en sesamolie gegeur met gekapte rissie, gemmer en vars koljander is heerlik!