Yorkshire-poedings

1 Klits 2 eiers en 150 ml melk saam tot skuimerig. Voeg 112 g (200 ml) gesifte meel, ’n knippie sout en varsgemaalde swartpeper by, en klits totdat dit ’n gladde beslag vorm. Laat dit vir 30 minute staan.

2 Giet ’n bietjie groenteolie in die holtes van ’n standaard-muffinpan en verhit dit 5 minute lank in ’n voorverhitte oond teen 200°C. Haal uit die oond en giet ewe veel beslag in elke holte. Pasop, die olie kan sis en spat wanneer jy die beslag byvoeg.

3 Sit die pan nou vinnig weer in die oonden bak 20 minute. Moenie loer nie! Die poedings moet mooi opgepof wees met ’n holte in die middel vir die vleissous.

Die vleisstuk

Vryf ’n 1,2 kg-beesrib waarvan die oortollige vet afgesny en die bene skoongemaak (gefranseer) is oraloor in met 15 ml Dijonmosterdsout en varsgemaalde swartpeper. Maak seker die vleis is by kamertemperatuur en nie yskas-koud nie. Verhit sowat 30 ml olie in ’n oondvaste pan en braai die vleis oraloor vir ’n mooi goudbruin buitekant. Voeg 12 geskilde baba-uitjies, ’n paar takkies roosmaryn en 125 ml water by die pan en rooster in’n voorverhitte oond teen 200°C vir 20 minute. Verlaag die hitte tot 160°C en rooster nog sowat 1 uur. Laat die vleis 15–30 minute lank op ’n warm plek rus voor jy dit voorsny. Beesrib is op sy beste nog pienk binne-in, maar rooster joune langer as jy verkies.

Die sous

Rooster ’n paar beesbene onder ’n voorverhitte roosterelement tot goudbruin en gekaramelliseer. Kap 1 groot ui, 2 wortels en 2 selderystingels (dié mengsel staan in die Franse kookkuns bekend as ’n mirepoix) en braai dit in 15 ml olie en 15 ml botter tot dit sag is en begin verkleur. Voeg 30 ml meel by en braai 2 minute terwyl jy aanhou roer, tot liggies bruin – nou het jy ’n roux. Klits sowat 1 liter goeie aftreksel by tot glad. Giet dié sous bydie bene in die oondpan, bedek met foelie en bak sowat ’n uur teen 180 °C sodat die geure kan ontwikkel. Andersins kan jy die sous en bene in ’n groot pot sit en op die stoof laat prut.

Ter afronding

Voeg 125 ml witwyn of aftreksel by die pan terwyl die vleis rus, en skraap al die lekker brandseltjies op die bodem van die pan los. Sit die groente saam met die vleis voor (ons het gebraaide spek en sampioene by die uie gevoeg) en meng die pansappe by die vleissous.

Proe die vleissous vir sout en peper. Jy kan dit nou ook met room verryk as jy wil. Syg die fluweelgladde sous deur ’n sif, en sit voor!