Min bestanddele, maar baie geur! Boonop kan jy dit as basis gebruik om spinasie-, broccoli- of blomkoolsop te maak deur eenvoudig die groente van jou keuse gaar te kook, verpulp en by te voeg. Lees die wenke onderaan.

Aartappel-en-preisop-nuusbrief

Genoeg vir: 4 (as ligte ete)

Bereidingstyd: 10 minute

Gaarmaaktyd: 30 minute

  • 2 groot preie, deeglik gewas en gesny
  • 30 ml botter
  • 3 medium aartappels, geskil en in blokkies gesny
  • sout en vars gemaalde swartpeper na smaak
  • 1 liter hoenderaftreksel

1. Maak seker die preie is skoon en sonder sandkorrels. Die maklikste is om dit te halveer, uit te was en daarna in skyfies te sny. Soteer dan die preie in botter tot sag. Die preie moet stadig braai – maak seker die plaat is nie te hoog nie.

2. Gooi die aartappelblokkies by en roerbraai dit verder totdat die aartappel oraloor met botter bedek is en aan mekaar begin vaskleef. Geur met sout en swartpeper. Gooi nou net genoeg aftreksel by om die groente te bedek, roer deur en verhit dit tot kookpunt. Verlaag die hitte, sit die deksel op en prut die sop totdat die aartappel gaar is. Laat dit effens afkoel en puree die sop tot glad. Gooi nog aftreksel by as dit te dik is.

Wenke en variasies

• Vervang die aftreksel met melk vir ’n ryker weergawe. Omdat dit effens sal skif, lyk die sop dalk nie so mooi soos met aftreksel nie, maar die smaak vergoed daarvoor.

• As jy broccoli- of spinasiesop maak, kan jy dit met skyfies camembertkaas garneer, of sit dit voor met geroosterde kaastoebroodjies.