Dis baie maklik om baklava te maak – onthou net dat fillodeeg baie maklik uitdroog en deurgaans onder ’n skoon, klam teedoek gehou moet word.    

1. Maak die stroop: Verhit die water en suiker oor lae hitte en hou aan roer totdat die suiker opgelos het. Gooi die heuning by en bring dit tot kookpunt. Verlaag die hitte en laat dit vir sowat 10 minute stadig prut of totdat die stroop begin verdik. Verwyder die stroop van die hitte, roer die suurlemoensap en rooswater by en laat dit afkoel. Sit die stroop in die yskas sodat dit yskoud kan word.

2. Voorverhit die oond tot 180°C. Smeer ’n vierkantige koekpan van 20 x 20 x 5cm. Rol die fillodeeg oop en hou dit onder ’n klam teedoek om te keer dat dit uitdroog. Sny die deeg in velle van 20 x 20cm. 

3. Verf elke vel fillodeeg met botter en stapel ’n derde van die velle in die koekpan opmekaar.

4. Meng die neute, kaneel, naeltjies en suiker. Versprei die helfte oor die fillodeegvelle in die koekpan. Verf die volgende derde deegvelle ook elkeen met botter en stapel dit ook opmekaar, maar moenie dit platdruk nie.

5. Sprinkel die orige neutmengsel oor dié laag fillovelle en eindig met die laaste derde deegvelle. Sny die baklava nou in diamantvormige of vierkantige blokkies, maar net halfpad deur die lae. Die baklava word eers regdeur gesny as dit uit die oond kom, maar dis noodsaaklik dat jy dit nou halfpad deursny sodat dit later maklik verdeel kan word. Bak dit vir 30 minute teen 180 °C en verhoog dan die oondtemperatuur tot 220°C voordat jy dit tot ’n diep goue kleur bak.

6. Haal die baklava uit die oond en sny dit deur tot onder. Hou dit in die oondskottel en gooi die koue stroop onmiddellik bo- oor sodat die stroop behoorlik geabsorbeer kan word. Laat die baklava afkoel en sit dit dan vir minstens 3 uur in die yskas voordat jy dit bedien.