Vodka, wat so te sê geurloos is, doen skynbaar wondere vir die geur van tamaties – soos in die bekende drankie waarna die sous genoem is. Die geheim is om al die alkohol weg te kook sodat net die toorkuns in die smaak agterbly.

1 Verhit die olie in ’n dikboompot en braai die uie stadig tot dit glansend is en net-net wil begin verkleur. Roer die knoffel by en braai nog ’n minuut. Giet die vodka by en kook stadig tot amper al die vloeistof verdamp het.

2 Voeg die tamaties by en druk met ’n aartappeldrukker stukkend. Spoel die blikke uit met ’n halwe koppie water en voeg dit ook by die pot. Kook rustig vir 20 minute. Geur dan met die selderysout en peper en maak fyn met ’n staafmenger. Ek hou van die sous net so, maar as jy rojaal voel, voeg 125–250 ml room by die gladde sous en kook nog ’n rukkie tot weelderig. Sit voor met jou gunsteling-pastavorms, harde kaas en basilie. Dit is ook lekker saam met gnocchi en ravioli; of raak kreatief en giet die sous oor gestoomde groente, afgerond met gesmelte kaas.

Wenk Berei die tamatiesous in groot maat en vries porsies vir kortpadkos in die week.