Braai & oornagslaai

0:00
play article
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Ed O'Riley
’n Varktjoppie oor die kole is ’n Suid-Afrikaanse instelling en saam met ons retro-oornagslaai (nes Ma dit gemaak het) gaan jou Braaidagvieringe feestelik wees!

Genoeg vir 6

Voorbereiding: 20 minute

Braaityd: Hang af hoe groot jou tjops en hoe warm jou vuur is

  • 6 dikgesnyde varkbraaitjops (rib- of lendevleis aan die been)
  • Maldonsout en varsgemaalde swartpeper na smaak
  • ’n groot knyp gedroogde Italiaanse kruie
  • sowat 10 ml gerookte paprika (of na smaak)
  • 15 ml olyfolie
  • sap van ½ suurlemoen (opsioneel)

SOUS

  • sowat 30 ml heuning
  • 15-20 ml korrelmosterd
  • 5 ml gekapte knoffel
  • ’n ruim knypie gekapte roosmaryn
  • 30 ml worcestersous
  • 30 ml tamatiesous

1. Maak seker die tjops is sonder die swoerd en sny oortollige vet ook af sodat daar net ’n dun lagie aan is. Geur die vleis goed met sout, peper, ’n strooisel kruie en genoeg gerookte paprika om indruk te maak. Jy kan soet paprika ook gebruik as jy verkies – dit gee pragtige kleur en geur aan die vleis.

2. Vryf dan ’n lagie olyfolie oor die vleis en ’n drukkie suurlemoensap as jy wil. Laat die tjops in die braaibak marineer terwyl jy die vuur aansteek. Jy het matig warm kole nodig.

3. Braai die tjops redelik stadig oor die kole totdat hulle mooi begin karamelliseer. Die presiese tyd gaan afhang van die grootte en vetinhoud van jou tjops, maar jy wil beslis nie die vleis droog en oorgaar hê nie. Skuif die tjoppies rond op jou rooster om seker te maak al die vleis kry ewe veel hitte en geniet maar iets koels in jou glas tussenin.

Wenk: As die tjops begin krul, gebruik ’n skerp kombuisskêr en knip insnydings deur die vetrand.

4. Klits die sousbestanddele saam, proe of daar nog iets kort en verf mildelik oor die vleis net voor dit reg is vir afhaal. Braai vir nog ’n minuut aan ’n kant. Jy wil die sous warm maak sonder om die vleis te skroei weens die hoë suikerinhoud van die heuning.

5. Haal die klewerige tjops van die kole af en laat rus vir minstens 10 minute in die braaibak. Smul dadelik!

Oornagslaai met spek en ertjies

Dié indrukwekkende slaai met al sy lagies is ’n retro-gunsteling, veral by ’n uithaal-en-wys- geleentheid. Voorsit is maklik, want die harde werk word die dag voor die makietie gedoen.

Genoeg vir 6-8

Voorbereiding: 10 minute, plus oornag

  • sowat 180 g bros blaarslaai, gesnipper
  • 4 sprietuie, fyngekap
  • ’n klein bossie platblaarpietersielie, gekap
  • 200 g klein murgpampoentjies, gekap
  • 2 selderystingels, fyngekap
  • 2 geel soetrissies, gekap
  • 300 ml bevrore ertjies
  • 30 ml ligbruinsuiker
  • 350 ml romerige mayonnaise
  • sout en varsgemaalde swartpeper na smaak
  • 125 ml fyngerasperde parmesaankaas
  • 4-6 gekookte eiers, afgedop en gerasper
  • 200 g spek, gesnipper en brosgebraai
  • vars basilie vir garnering
  • 200 g spekstukkies, brosgebraai

1. Meng die blaarslaai, sprietuie en pietersielie en skep dit onderin ’n mooi glasbak. Rangskik nou ’n laag murgpampoentjies oor, dan seldery, gevolg deur die soetrissie.

2. Strooi nou die ertjies – net so bevrore – in ’n eweredige laag bo-oor.

3. Strooi die suiker oor, gevolg deur ’n dik laag mayonnaise. Geur waar nodig tussen die lagies met sout en peper, en roer (afhangend van watter mayonnaise jy gebruik) ’n knippie rooipeper, knoffelpoeier en/of gedroogde kruie ook by, nes jy daarvan hou.

4. Strooi volgende die kaas oor, gevolg deur die eier en laaste die bros spek. Maak die slaai dig toe en bêre oornag in die yskas. Sit voor met ’n strooisel vars basilie saam met jou allemintige braaitjops!

Jongste uitgawe

Okt | Nov 2021

Jongste uitgawe
Kry jou praktiese, inspirerende gids vir die huis en tuin nou as ’n e-tydskrif.
Begin lees
Jongste uitgawe

WERF 2021

Jongste uitgawe
Kry jou praktiese, inspirerende gids vir jou werf nou as ’n e-tydskrif.
Begin lees