1 Voorverhit die oond tot 180 °C en voer ’n 20 x 30 cm-koekpan uit met bakpapier. Klop (verkieslik met ’n elektriese klitser) die botter en suiker saam tot romerig en lig van kleur. Voeg nou die meel en mielieblom by en meng om ’n sagte deeg te vorm. Druk styf vas in ’n eweredige laag op die bodem van die pan. Prik met ’n vurk en bak vir sowat 25 minute of tot goudbruin en gaar. Laat die brosbrood in die pannetjie afkoel.

2 Verhit die room en bier saam tot net by kookpunt. Giet dit oor die gerasperde sjokolade in ’n mengbak en roer versigtig tot gesmelt. As jy sukkel, sit die mengbak met die sjokolademengsel oor ’n pot met ’n paar sentimeter kookwater daarin sodat die stoom die lotjie kan help smelt. Laat die ganache effens afkoel en giet dit oor die brosbroodlaag in die pan. Versier dadelik met die sout pretzels en ’n strooisel soutvlokkies. Laat dit hard word voor jy die brosbrood in blokkies sny. Bêre in ’n lugdigte houer.