1 Voorverhit die oond tot 160°C en voer die bodem van twee 23cm-koekpanne uit met bakpapier. Moenie die pannetjies smeer nie – dié koek rys op sy beste as die beslag aan die koekpan kan “klou” terwyl dit bak; ’n gesmeerde pan sal die beslag laat afgly en die koek digter maak.

2 Sif die meel, mielieblom, bakpoeier en sout twee keer saam. Dit vang ekstra lug in die beslag vas en verseker ’n ligter koek.

3 Voeg die kremetart by die eierwitte en klits met ’n elektriese klitser tot stywe punte vorm. Voeg 125ml van die suiker lepel vir lepel by en klits goed ná elke byvoeging totdat die eierwit styf en blink lyk soos meringue. Klits nou met dieselfde klitser die eiergele, die orige 55ml suiker, water en olie en 5ml van die vanieljegeursel saam tot gemeng en klits dadelik die meel by tot net gemeng. Dit moet glad wees, maar nie onnodig baie geklits nie.

4 Skep ’n lepel vol van die stywe eierwitte bo-op die beslag en vou vinnig in. Voeg die res van die eierwit by en vou alles nou in met ’n groot metaallepel tot net gemeng. Verdeel die beslag tussen die twee koekpanne en bak in die middel van die oond vir 30–35 minute of tot ’n toetspen skoon uitkom. Keer die panne om op ’n draadrakkie en laat heeltemal afkoel.

5 Om saam te stel, haal die koek versigtig uit die panne en trek die bakpapier af. Smeer die onderste laag met jou gunstelingkonfyt, sit die tweede koek bo-op en rond af met geklopte room gegeur met die oorblywende vanieljegeursel en 5ml suiker, en die vars vrugte.

BAKWENKE

• Moet nooit die oonddeur oopmaak terwyl die koek bak voor minstens die helfte van die baktyd verstryk het nie. Die koek kan platval weens die temperatuurskommeling.

• Het jy geweet vars eiers klits nie styf nie? Winkeleiers is gewoonlik ’n dag of wat oud, maar laat staan plaaseiers altyd eers ’n dag of wat voor jy daarmee bak.

• Gebruik eiers teen kamertemperatuur wanneer jy bak, maar bêre in die yskas sodat hulle langer vars bly.

• Proe die olie voor jy daarmee bak. Olyfolie smaak ryk en heerlik, terwyl ou, galsterige groente-olie ’n wrang smaak aan gebak kan gee.

• Eierwit kan nie styf klits wanneer enige vet, olie of eiergeel daarmee in kontak kom nie. Maak seker jou mengbak en klitser is skoon en droog voor jy begin klits.