1 Voorverhit die oond tot 120°C. Verhit die melk en vanieljesaad saam tot net onder kookpunt (daar moet stoom uit die melk trek, maar dit moenie borrels maak nie), verwyder van die hitte en laat trek ’n paar minute.

2 Gebruik ’n ballonklitser en klits die eiergele en strooisuiker saam tot lig. Roer die room by die melk en klits die melkmengsel nou geleidelik by die eiergele tot glad. Probeer om nie so driftig te klits dat daar baie skuim vorm nie.

3 Plaas ses glas- of keramiekbakkies met ’n 100ml-inhoudsmaat in ’n diep oondbak. Giet die eiervla in die bakkies, skep enige skuim af en giet genoeg kookwater in die oondbak dat die bakkies halfpad in die water staan. Sit die oondbak versigtig in die oond en bak vir sowat 1 uur. Dit klink geweldig lank vir sulke klein nagereggies, maar onthou, dit gebeur teen ’n baie lae temperatuur.

4 Haal die bakkies uit die kookwater en laat afkoel tot kamertemperatuur; verkoel dan in die yskas tot koud.

5 Om voor te sit, strooi ’n lagie bruinsuiker oor elke nagereg se oppervlak en gebruik 'n blaasvlam om dit versigtig te karamelliseer. Ek sit soms ’n paar skyfies piesang onder die suiker voor ek dit brand vir ekstra tekstuur, maar ’n paar bessies bo-op die karamelsuiker is ook heerlik. Sit dadelik voor.