1. Spoel die pekel van die vleis en gebruik ’n skerp messie om net-net deur die vellaag te sny. Sit dit dan in ’n groot pot saam met die wortels, seldery, peper, lourier en gemmerbier en bring tot kookpunt. Draai die hitte laag en laat kook tot die vleis van die been wil afval. Alda span natuurlik hiervoor ook haar prutpot in, maar as jy nie een het nie, kook die eisbein vir 2 uur en laat dit in die sous afkoel vir nog 2 uur.

2. Voorverhit die oond tot 200 °C. Haal die vleis uit die kookvloeistof en sit dit in ’n oondroosterpan saam met die appels. Meng die glaseerselbestanddele met genoeg kookvloeistof om ’n dik smeer te vorm en verf mildelik oor die vleis. Bak tot die vleis blink. Sit voor met ’n strooisel sagte kruieblaartjies en Ginger & Peppadew Pepper Relish of jou gunstelingtamatiesmoor.