Oondtemperatuur: 180°C 

1. Verhit die olie in ’n pan en braai die ui, knoffel en brandrissie tot geurig. Voeg die maalvleis by en braai tot bruin. Breek die vleis deurgaans met ’n spaan om die korrels los te woel; die mengsel moet droog wees, anders word die pastei pap. Geur met die speserye, sout en peper, roer die pietersielie by en haal die pan van die hitte af.

2. Klits die jogurt, olie en eier saam en geur met sout en peper. Voorverhit die oond en smeer ’n oondbak met gesmelte botter.

3. Hou die filodeeg onder ’n klam vadoek terwyl jy werk om te keer dat dit uitdroog (of werk baie vinnig). Verf die jogurtmengsel oor vyf van die deegvelle en pak die velle op mekaar in die voorbereide oondbak. Versprei die vleis eweredig oor die deeg (dit hoef nie ’n dik laag te wees nie). Strooi volgende die feta in ’n laag bo-oor. Verf die oorblywende vyf deegvelle met die jogurt-mengsel en stapel op mekaar. Plaas dié stapel oor die pastei en vou die rande saam om dit te seël. Giet die oorblywende jogurtmengsel bo-oor. Neem ’n skerp messie en sny die pastei versigtig in blokkie terwyl dit nog rou is. Bak tot goudbruin en gaar (sowat 35–40 minute).

4. Sny die gaar pastei weer op dieselfde lyne wat in die rou pastei gemaak is en sit die bros blokke voor met geroosterde tamaties of dik tuisgemaakte tamatiesous as vullende snoepie. 

Variasies

• Laat die feta weg en geur die maalvleis met bobotiespeserye, gekapte amandels en broodkrummels; sit voor met blatjang.

• Vervang die maalvleis met geblansjeerde spinasie en roket. Die kombinasie is klassiek en maak ’n heerlike vegetariese gereg.