Genoeg vir: 8 aptytwekkers
Bereidingstyd: 15 minute, plus 2 uur droogtyd
Oondtemperatuur: 100 °C

  • 175 ml strooisuiker
  • 250 ml water
  • 30 ml suurlemoensap
  • 2 groot Granny Smithappels, elk in sowat 10 dun skyfies gesny
  • 100 ml crème fraîche
  • 80 g gerookte salm
  • 80 ml salmkaviaar

1. Berei die stroop Verhit die strooisuiker en water saam oor lae hitte en roer tot die suiker opgelos is (voordat die stroop begin kook). Prut vir sowat 5 minute. Roer die suurlemoensap by en laat afkoel.

2. Doop die appelskyfies in die stroop en sit hulle op ’n vel bakpapier wat bo-op ’n afkoelrakkie geplaas is. Sit dit in die oond en droog vir 2 uur teen 100 °C, met die oonddeur effens oop. Sodra die appelskyfies droog en hard is, kan jy dit uit die oond haal en laat afkoel.

3. Sit twee appelskyfies bo-op mekaar en skep ’n bietjie crème fraîche bo-op. Vorm rosies met die salm en sit dit langs die skyfies, en garneer laastens met ’n bietjie salmkaviaar. Sit voor saam met vonkelwyn.