Maak die filet ’n dag vantevore gaar. Nie alleen sny dit makliker en netjieser nie, jy het ook minder werk op Kersdag.

Genoeg vir: 8–10
Bereidingstyd: 20 minute
Oondtemperatuur: 220 °C
Gaarmaaktyd: 25–30 minute

  • 60 ml koljandersaad
  • 60 ml swartpeperkorrels
  • 15 ml rissievlokkies
  • 3–4 knoffelhuisies, gekneus
  • 125 ml olyfolie
  • 1 x 2 kg-beesfilet
  • sout
  • 60 ml gekapte vars koljanderblare
  • 60 ml gekapte vars Italiaanse pietersielie
  • 60 ml gekapte sprietuie

1. Meng die koljander, swartpeperkorrels en rissievlokkies in ’n vysel of druk dit  met die agterkant van ’n koksmes fyn. Voeg die knoffel en olyfolie by en vryf die filet met die spesery-olie tot oraloor bedek. Plaas die filet in ’n bak en bedek met kleefplastiek. Plaas dit vir minstens 4 uur of oornag in die yskas.

2. Voorverhit die oond tot 220 °C. Haal die vleis uit die bak en plaas dit in ’n oondbak. Sit dit in die oond vir 25–30 minute as jy van mediumgaar bees hou (of vir 45 minute as jy dit goed gaar verkies). Plaas die filet eenkant tot afgekoel, bedek dit met kleefplastiek en sit dit in die yskas tot nodig.

3.Om voor te sit Laat die vleis kamertemperatuur bereik voordat jy dit voorsit. Sprinkel die sout en gekapte kruie oor die vleis en sny in skywe.

VIR DIE GEBAKTE VYE

Sny ’n kruisie deur die bokante van 6 middelslag-vye en druk dan die kante liggies sodat die vleis effens uitsprei. Stop met blokkies fetakaas en gekapte amandels en draai elke vy versigtig in ’n reep parmaham toe.

Plaas die vye op ’n bakplaat en bak teen 180 °C vir 8-10 minute tot deurwarm, maar nie pap nie. Sit dié vinnige bykos sommer saam met die beesfilet op ’n dienbord. Smullekker en vol geur.