1. Meng die botter en stroop in ’n klein kastrol en bring tot kookpunt. Verwyder van die hitte en laat vir 10 minute afkoel. Dit is baie belangrik om nie die vuurwarm stroop dadelik by die meel te roer nie, want dit sal die meel “kook” en die tekstuur van die deeg bederf.

2. Sif die droë bestanddele saam en roer die stroopmengsel, melk en sitrusskil daarby met ’n houtlepel tot glad. Knie die sagte deeg effens op ’n meelbestrooide oppervlak tot ’n sagte, hanteerbare deeg; bedek met kleefplastiek en laat by kamertemperatuur rus vir sowat 1 uur.

3. Voorverhit die oond tot 180°C. Rol die deeg nou met ’n bietjie ekstra meel uit tot so 5 mm dik en sny vormpies uit met ’n koekiedrukker. Pak die koekies op ’n bakplaat wat met bakpapier uitgevoer is. Gebruik die punt van ’n houtlepel se steel en maak ’n holtetjie in die middel van elke koekie sonder om heeltemal deur die deeg te druk; vul met konfyt. Bak vir sowat 10 minute of tot goudbruin en bros. Laat heeltemal afkoel en doop hier en daar in sjokolade vir ’n stout ekstra. Laat die koekies in die yskas hard word en bêre in ’n lugdigte houer.