Genoeg vir: 10-12 porsies
Bereidingstyd: 30 minute
Oondtemperatuur: 180 °C
Gaarmaaktyd: 1½–2 uur

  • 45 ml sagte botter
  • 5 ml gekapte salieblare
  • heel kalkoen van sowat 3,5 kg

MACADAMIANEUTVULSEL

  • 15 ml olie
  • 1 klein ui, fyngekap
  • 50 g macadamianeute, gekap
  • 2 snye ciabatta-brood, in blokkies gesny
  • 1 klein peer, gerasper
  • 30 ml gekapte salieblare
  • 50 ml gekapte pikantrissies
  • 4 varkworsies, gesny

1. Berei die macadamianeutvulsel Verhit die olie in ’n braaipan en soteer die ui daarin tot sag en glansend. Voeg die macadamianeute en broodblokkies by en braai vir nog sowat 3-5 minute of tot ligbruin. Voeg die peer, salieblare, pikantrissies en varkworsies by. Geur na smaak en laat afkoel tot kamertemperatuur.

2. Meng die botter en salie en geur na smaak. Maak die vel van die kalkoenbors versigtig los en versprei die gegeurde botter eweredig onder die vel met jou vingerpunte. Druk die vel terug in sy oorspronklike posisie.

3. Skep die vulsel in die maagholte van die kalkoen. Gebruik kombuistou om die kalkoen se bene vas te bind.

4. Plaas die kalkoen in ’n gesmeerde oondroosterpan en rooster dit in ’n voorverhitte oond vir sowat 1½–2 uur tot deurgaar, maar nie droog nie. (As jy kalkoen met ’n opwip-tydmeter koop, sal die toestel jou wys wanneer jy hom uit die oond kan haal.) Bedruip dit gereeld met die pansappe. Die kalkoen is gaar as die vloeistof wat uitloop wanneer jy ’n vleispen in die dikste deel van die vleis steek, helder is. Haal die kalkoen uit die oond en laat dit op ’n warm plek rus vir sowat 15 minute.

5. Sny die kalkoen in skyfies en sit dit warm of teen kamertemperatuur voor.