Genoeg vir: 8 porsies
Bereidingstyd: 1 uur
Oondtemperatuur: rooster
Gaarmaaktyd: 8 minute

PIEKELWAATLEMOEN

  • 2,5 ml koljandersaad
  • 2 steranyssade
  • 5 kardemomsade
  • 200 ml appelasyn
  • 200 ml water
  • 2 lourierblare
  • skil van een lemoen, in een reep afgesny
  • 100 g suiker
  • sout en varsgemaalde swartpeper na smaak
  • 24 waatlemoensterretjies of -blokkies

GARNALE

  • 16 groot steurgarnale
  • 2 vet koffelhuisies, gekneus
  • 30 ml vars ment, fyngekap
  • 30 ml vars tiemie, fyngekap
  • 1 rooi brandrissie, gekap
  • 100 ml olyfolie

SLAAIBONDELS

  • 1 groot komkommer, in lang dun repe gesny
  • cos-slaaiblare en gemengde slaaiblare
  • grasuie

1. Berei piekelwaatlemoen Rooster die koljandersaad, steranys en kardemomsaad droog in ’n braaipan oor lae hitte totdat die geure begin ontwikkel. Plaas dit in ’n vysel en stamp fyn. Skraap die speserye uit in ’n klein kastrol en gooi die appelasyn, water, lourierblaar, lemoenskil, suiker en sout en swartpeper by. Bring tot kookpunt, verlaag die hitte en prut vir sowat 3 minute. Verwyder dit van die hitte en laat staan tot afgekoel. Giet die mengsel oor die waatlemoensterretjies of -blokkies sodra dit afgekoel het en roer deur. Bedek en laat staan vir sowat ’n uur voor bediening.

2. Berei die garnale Verwyder die doppe van die steurgarnale, maar behou die koppe en stertgedeeltes. Sprinkel die knoffel, kruie, brandrissie en olyfolie oor die steurgarnale en meng deur sodat hulle oraloor bedek is. Rooster onder ’n voorverhitte roosterelement vir ’n paar minute aan elke kant, tot gaar.

3. Berei slaaibondels Plaas twee cos-slaaiblare opmekaar sodat die stingelente aan dieselfde kant lê. Plaas van die kleiner gemengde slaaiblare binne-in en rol die bondel op. Bind ’n komkommerreep om die stingelent van die slaaibondel en bind vas met ’n grasui. Sny die onderkant gelyk sodat die bondel kan regop staan. Herhaal met die oorblywende bestanddele totdat jy uiteindelik 8 slaaibondels het.

Om voor te sit Pak op elke bord 2 steurgarnale, 1 slaaibondel en 3 vrugtesterretjies. Bedruip die slaaibondel met ’n vinaigrette.

Wynvoorstel Vul weer die vonkelwynglase saam met dié elegante voorgereg. Skink verkieslik ’n Cap Classique van hoë gehalte – suikersoet voggies sal nie deug nie.