Genoeg vir 10–12

Bereidingstyd: 45 minute, plus oornag in die yskas
Gaarmaaktyd: sowat 3½ uur

  • 2,5–3 kg ontbeende varklies met die vel aan
  • sout en peper
  • 60 ml korrelmosterd
VULSEL

  • 30 ml olyfolie
  • 1 klein suurdeegbrood of ciabatta, in blokkies gesny
  • 2–3 Pink Lady-appels, stronke verwyder en in wiggies gesny
  • 15 ml heuning
  • 15 ml suurlemoensap
  • 1 rooi brandrissie, gekap
  • 1 knoffelhuisie, gekap
  • 1 duim vars gemmer, gekap
  • 1–2 takkies roosmaryn, blaartjies gestroop
  • 125 ml gedroogde bosbessies

1. Gebruik ’n skerp nutsmessie en liniaal om die varkvel in te sny. Maak die insnydings omtrent 1 cm uit mekaar oor die breedte van die vleis (of draai jou slagter se arm om dit vir jou te doen). Giet nou kookwater oor die vel, dreineer en druk droog met ’n vadoek (kombuispapier is geneig om vas te sit). Vryf mildelik in met sout en peper en sit dit oop op ’n rakkie in die yskas. Die koue lug ontwater die vel en lewer ’n brosser resultaat.

2. Maak die vulsel Meng die helfte van die olie deur die broodblokkies en braai onder ’n voorverhitte roosterelement tot goudbruin alkante. Meng die appelwiggies met die heuning, suurlemoensap, brandrissie, knoffel, gemmer en roosmarynblaartjies en geur met sout en peper. Rooster tot die appel sag is en begin kleur kry. Meng die bosbessies deur die brood en appel. Verhit die oond tot 230 °C.

3. Plaas 30 cm-lengtes kombuistou parallel,  sowat 2 cm uit mekaar, op ’n kapplank. Sit die varklies bo-op neer met die velkant na onder en smeer die mosterd oor. Skep die vulsel oor die lengte in die middel van die vleis. Rol die vleis op rondom die vulsel tot dit weer bymekaarkom en bind dit dan stewig vas met die tou. Weeg die stuk vleis om die gaarmaaktyd te bepaal: 25 minute vir elke 500 g, plus ’n ekstra 20 minute.

4. Sit die vleisrol op ’n roosterrakkie in ’n oondpan en oondrooster dit vir 20 minute by 230 °C – die hoë temperatuur sal die vel bros en goudbruin maak, maar hou dit fyn dop vir brand. Verlaag dan die temperatuur na 180 °C en rooster dit verder. Wenk As die krakeling ná die berekende tyd nog nie na wense geborrel het nie, gebruik jou roosterelement. Maar pasop – dit brand gou.

5. Verwyder die toutjies en laat die vleisstuk goed rus voordat jy dit sny.