Hierdie is ’n lekker vegetariese ete. Skywe gebraaide halloumi-kaas is heerlik op dié burgers; vir diegene wat hou van vleis kan jy ’n reep brosgebraaide spek byvoeg.

Groenteburger-nuusbrief

Genoeg vir: 4 porsies

Bereidingstyd: 15–20 minute

Oondtemperatuur: rooster

Gaarmaaktyd: 15 minute

• 1 eiervrug, in 1 cm dik skywe gesny

• 1–2 tamaties, in dik skywe gesny

• 30 ml olyfolie

• sout en varsgemaalde swartpeper

• 8 groot bruin sampioene

• 4 ciabatta-rolletjies

• roketblare

• 1 avokado, fyngedruk

HARISSA-MAYONNAISE

• 250 ml goeie mayonnaise

• 10 ml harissa-smeer

• suurlemoensap na smaak

1. Verf die skywe eiervrug met olyfolie aan albei kante. Braai dit in ’n riffelpan totdat dit gaar is en swart strepies het, of rooster dit onder ’n voorverhitte roosterelement tot goudbruin en gaar alkant.

2. Braai die tamatieskywe in die olyfolie en geur dit na smaak met sout en swartpeper. Braai dan die sampioene tot gaar.

3. Meng al die bestanddele vir die harissamayonnaise.

4. Sny die ciabatta-rolletjies oop en vul dit met roket, avokadosmeer, eiervrug- en tamatieskywe, sampioene en laastens die harissa-mayonnaise.

Wynvoorstel Skink ’n bier of sider saam met dié gesonde burger.

Het jy geweet?  Harissa is ’n smeer wat van brandrissies, knoffel, komyn en karwysaad gemaak word en is afkomstig van Noord-Afrika. Jy kan dit by goeie supermarkte en sommige deli’s koop. As alternatief kan jy jou gunsteling-rissiepasta gebruik.

KOS-footers-2