*Jy het 10–12 vye en sowat 200 ml stroop nodig

Oondtemperatuur: 180°C

1 Dreineer die groenvye en sit 200 ml stroop in die yskas om yskoud te word. (As jy te min het, kook gelyke hoeveelhede water en suiker saam vir 5 minute nadat die suiker opgelos het, en vul die groenvystroop daarmee aan.)

Kap die groenvye en pols dit saam met die neute, suiker en suurlemoenskil in ’n voedselverwerker tot ’n growwe mengsel. Hou eenkant.

Besluit of jy ’n ronde of vierkantige baklava wil maak – ons het ’n ronde 23cm-koekpan gebruik. Verf die pan met botter, reg om te begin stapel. Tel jou fillodeeglae en deel dit in vier. Neem die eerste hoeveelheid deeglae (hou die res van die deeg onder ’n klam teedoek sodat dit nie uitdroog nie), verf een-een met botter en stapel op mekaar. Sny die stapel volgens die vorm van jou pannetjie en gebruik ook die afgesnyde rande in die stapel om dit dikker te maak.

Sit die eerste stapel gesmeerde deeglae in die voorbereide pan en skep ’n derde van die neut-en-groenvyvulsel in ’n eweredige laag bo-op; druk goed vas. Verf die volgende hoeveelheid deeglae met botter en plaas bo-op, gevolg deur nog ’n derde groenvyvulsel, nog ’n stapel deeglae, weer vulsel en eindig met die laaste stapel fillodeeg.

5 Voorverhit die oond. Sny die baklava nou in skywe of in vierkantige blokkies, maar net halfpad deur die lae (jy sny dit eers regdeur wanneer dit uit die oond kom, maar dis noodsaaklik dat jy dit nou halfpad deursny sodat dit later maklik verdeel kan word). Bak vir 30 minute teen 180 °C en verhoog dan die oondtemperatuur tot 200 °C vir nog sowat 10 minute of tot dit ’n diep goue kleur het.

6 Haal die baklava uit die oond en sny dit deur tot op die bodem. Hou dit in die pan en giet dadelik die koue stroop oor sodat dit behoorlik geabsorbeer kan word. Laat die baklava afkoel en sit dit koud voor met soetwyn en ’n skeppie dik Griekse jogurt of bevrore jogurt.

Bevrore jogurt

Bevrore jogurt maak is so maklik soos om dubbelroom-jogurt en versoeter van jou keuse in ’n roomysmasjien te vries. As jy nie ’n masjien het nie, maak dan só:

Meng 1 liter Griekse dubbelroom-jogurt met heuning na smaak en ’n knertsie vanieljegeursel. Skep die mengsel in die holtes van ’n paar yshouertjies en vries tot net hard. Keer die jogurt-ysblokkies uit in jou bekerversapper (maak seker dit kan ys fynkap) en pols tot glad en romerig.

Voeg ’n bietjie melk by as dit sukkel om fyn te word; die bevrore jogurt moet dieselfde tekstuur as ’n draairoomys hê. Skep terug in ’n plat houer en vries vir ’n paar uur tot ferm. Skep met ’n roomysskepper in balle en sit voor saam met jou baklava.