1 Verhit die olie en braai die maalvleis tot bruin. Breek die vleis deurgaans op met ’n spaan. Verwyder die varkworsievleis uit die derms en voeg dit saam met die speserye by die maalvleis; braai tot dit ook mooi kleur kry. Skep uit, maar behou enige vet in die pan.

2 Vul die olie aan indien nodig en braai nou die ui, wortel, seldery, raap en knoffel tot glansend (minstens 5 minute). Roer die tamatiepasta by en braai deur. Skep die vleis terug in die pot en voeg die wyn by. Laat kook driftig tot met die helfte ingedamp. Roer die geblikte tamatie en aftreksel by en laat prut rustig vir 1 uur.

3 Smelt die helfte van die botter in ’n pan en braai die sampioene mooi bruin. Roer dit by die vleis en geur na smaak met sout en peper. Laat prut verder sonder die deksel tot lekker dik en skep dan in ’n mooi oondbak.

4 Vir die kapoklaag, kook die aartappels tot gaar in soutwater. Dreineer en roer die karringmelk, bakpoeier, neutmuskaat en ’n goeie knypie seesout by en maak fyn met ’n aartappeldrukker – werk driftig om ’n veerligte kapok te verkry. Oordeel self of die tekstuur reg is; jy kan meer of minder vloeistof byvoeg. Skep die kapok bo-op die vleis in die oondbak. Ons het ’n spuitsak met ’n sterpunt gebruik om die aartappel in parmantige hopies te spuit.

5 Voorverhit die oond tot 180 °C. Smelt die res van die botter in ’n klein pan en braai die salieblare daarin. Die botter moet ’n ligbruin kleur en ’n neuterige smaak kry sonder om te brand. Giet die saliebotter oor die kapok en bak die herderspastei vir sowat 30 minute. Span gerus jou roosterelement in as die aartappels nie bruin genoeg na jou sin gebak is nie. Sit dadelik voor.