Om ’n tertdop “blind te bak” beteken die tertdop word sonder ’n vulsel gebak om ’n bros kors te verseker. Die rou tertdop word met bakpapier of foelie uitgevoer en met droë boontjies of ryskorrels gevul en dan so gebak. Die droëboontjies ondersteun die deeg sodat dit nie krimp terwyl dit bak nie.

Tuis Hoe om te blind bak

Maak so:

1. Prik die bodem van die rou deeg in die uitgevoerde quiche-pan met ’n vurk.

2. Sny ’n groot genoeg bakpapiersirkel wat die deeg sal bedek en effens oorsteek. Pak ’n laag droëboontjies bo-op die bakpapier.

3. Bak die tertdop in ’n voorverhitte oond volgens die resep se aanwysings – gewoonlik 10 minute vir ’n 20 cm-tert. Verwyder die boontjies en bakpapier en bak weer vir ’n paar minute sodat die bodem van die tertdop ook kan gaar word.

4. Laat die tertkors afkoel voordat jy dit vul.