Bestanddele
- ’n takkie roosmaryn, blaartjies gestroop
- 5 ml seesoutvlokkies
- 3 ml vinkelsaad
- gerasperde skil van ’n suurlemoen
- 60 ml botter
- 1,3 kg heel werfhoender
- 6 klein rooi uitjies, geskil en gehalveer
- 2 trosse wit of rooi druiwe
- 60 ml olyfolie
- 15 ml bruinsuiker
- 45 ml rooiwynasyn
- 6 takkies tiemie
- 375 ml gort, gaar gekook volgens die aanwysings op die pakkie
- 4 vars vye
Metode

1 Voorverhit die oond (180°C). Kap die roosmaryn, seesout en vinkel fyn en meng dit saam met die suurlemoenskil by die botter. Druk die hoender oraloor droog met kombuispapier, sny die klier bo-op die stuitjie uit en geur binne-in met sout en peper. Maak nou versigtig die vel oor die borsgedeelte los en versprei die meeste van die geurbotter onder die vel. Probeer die botter diep tot by die boudjies en dytjies inwerk. Vryf die res van die botter oraloor die buitekant van die hoender. Bind die boudjies met kombuistou vas en sit die hoender in ’n oondroosterbak saam met die uitjies.
2 Rooster dit nou eers met die borskant na bo vir 20 minute. Draai dit dan op die sy vir 20 minute, op die maag vir 20 minute en dan die ander sy vir 20 minute.
3 Meng die druiwe, olie, suiker, asyn en tiemie. Draai die hoender weer op sy rug, bedruip met die pansappe en skep die druiwemengsel rondom die hoender. Bak vir ’n laaste 20 minute totdat die hoender goudbruin is en die druiwe ook ’n kleurtjie gekry het.
4 Giet die pansappe uit die roosterpan in ’n beker en skep enige oortollige vet af. Meng die geurige sous deur die gaar gort vir die allerheerlikste bygereg en sit die hoender en druiwe voor met die gort en vars vye.
Teken in en kry onbeperkte toegang tot 11 Afrikaanse tydskrifte en 35 koerante. Alles op een plek.
KIES JOU PAKKET