Deur die maagholte van ’n heel hoender eers te ontbeen voordat jy dit stop, maak dit die sny van die hoender ’n plesier eerder as ’n gesukkel.

Hoender-met-koeskoesvulsel-nuusbrief

Genoeg vir 6 porsies

Bereidingstyd: 1 uur

Gaarmaaktyd: 1 uur 20 minute

Oondtemperatuur: 180 °C

• 1,3 kg heel hoender (verkieslik vryloop), maagholte ontbeen • 6 repe spek • 1 groot ui, in skyfies gesny • 3 suurlemoene, in skyfies gesny • 120 ml witwyn

VULSEL

• 250 ml hoenderaftreksel

• 250 ml koeskoes

• 1 klein ui, fyngekap

• 3 knoffelhuisies, gekap

• 1 rooi brandrissie, gekap

• 30 ml olyfolie

• sowat 30 ml suurlemoensap

• 5 ml gerasperde suurlemoenskil

• 60 ml dennepitte of pistasieneute

• 120 ml gekapte pietersielie

• 4–6 dadels, ontpit en gekap

• 1 eier

1. Berei die vulsel Bring die aftreksel tot kookpunt en giet dit oor die koeskoes in ’n bak met ’n stywe deksel. Sit die deksel op en stoom vir 5 minute. Krap die korrels los met ’n vurk. Braai die ui, knoffel en brandrissie in die olyfolie tot glansend. Meng dit deur die koeskoes saam met die suurlemoensap, -skil, neute, kruie, dadels en eier. Geur met sout en peper en laat afkoel.

2. Skep die koue vulsel in die buikholte van die ontbeende hoender. Bind die beentjies met ’n stuk kombuistou vas om dit in posisie te hou. Vryf die hoender oraloor met sout, peper en olyfolie en pak die spekrepe oor die borsies. Bind ook die lyf by die vlerkies met tou vas. Pak die uie en suurlemoen in ’n roosterpan. Sit ’n draadrakkie met die heel hoender daarop in die pan en giet die wyn in die pan.

3. Bak vir 40 minute. Bedruip die hoender met die pansappe en vul die vloeistof aan indien nodig. Bedek die borsgedeelte met foelie sodat dit nie te bruin word nie. Sit terug in die oond vir nóg sowat 30 minute of tot deurgaar. Laat die vleis 20 minute rus voordat jy dit voorsit.

KOS-footers-2