My resep is geïnspireer deur Mireille Guiliano se pastis-hoender uit French Women For All Seasons, wat sy afrond met swart olywe, tamatie en basilie. Ek voeg vye en heuning by myne as ’n ode aan Provence.

1 Meng al die bestanddele vir die marinade. Sit die hoender in ’n bak met ’n digsluitende deksel, giet die marinade oor en sit dit oornag in die yskas. Draai die hoender af en toe om sodat dit oraloor kans kry om in die geure te baai.

2 Laat die hoender kamertemperatuur bereik voor jy dit gaarmaak. Voorverhit intussen die oond.

3 Sit die hoender met die borskant na bo op ’n draadrakkie in ’n oondbak, geur mildelik met Maldonsout, varsgemaalde swartpeper en heuning. Giet die marinade in die oondbak, voeg die uitjies en sowat ’n koppie of wat water by (die water keer dat die pansappe brand). Rooster die hoender vir 1 uur en 20 minute. Tradisioneel word ’n geroosterde hoender elke 20 minute geroteer sodat dit oraloor bruin braai – besluit self of jy so baie met die kiepie wil karring. Die hoender is reg wanneer ’n boudjie maklik van die dytjie wegtrek en die vel mooi goudbruin is. Laat rus die hoender sowat 10 minute voor jy dit sny. Ek is mal oor die vrugtige geure saam met bruinrys of gort, en natuurlik vars baguette.