1 Voorverhit die oond tot 220 °C. Sif die meel, sout en bakpoeier saam en vryf die botter by die mengsel in totdat dit soos growwe broodkrummels lyk. Klits die eier en die helfte van die yswater saam en voeg dit by die meelmengsel. Gebruik nou ’n bottermes en meng die nat bestanddele met snybewegings by die droë bestanddele. Voeg nog yswater by soos nodig – die deeg moet lig, maar styf wees. 

2 Keer die deeg uit op ’n skoon werkoppervlak en knie ’n paar keer totdat dit mooi bymekaarkom. Druk die deeg platter tot omtrent 2 cm dik. Druk ’n 4 cm-koekiedrukker in meel en druk dan soveel skons moontlik uit die deeg. Knie die orige deeg weer liggies saam en herhaal. Pak die skons op ’n bakplaat wat met bakpapier uitgevoer is en verf elkeen met ’n bietjie melk. Strooi die kaas oor en geur met rooipeper, bak dit dan vir 10–15 minute tot goudbruin en gaar. Laat die skons op ’n draadrakkie afkoel. Sit warm voor met konfyt en geklopte room.