Genoeg vir: 8–10

Bereidingstyd: 45 minute (plus rustyd in yskas)

Gaarmaaktyd: 20 minute

Bestanddele:

• 500 ml koekmeel

• 5 ml sout

• 2,5 ml bakpoeier

• 250 ml warm water

• 125 g sagte botter of ghee

• olie vir braai

So maak jy

Sif die meel, sout en bakpoeier saam in ’n mengbak. Voeg net genoeg water by die droë bestanddele om ’n sagte, hanteerbare deeg te verkry. Knie die deeg vir ’n paar minute totdat dit sag, glad en elasties is. 

2 Sit die deeg in ’n gesmeerde mengbak, bedek dit met kleefplastiek en sit dit vir sowat ’n halfuur in die yskas.

3 Sif ’n bietjie meel op ’n skoon werkoppervlak en rol die deeg in ’n reghoek uit, sowat 5–8 mm dik. Smeer die botter of ghee oor die deeg en rol dit op van die langste sy om ’n wors te vorm. 

4 Sny die rol in 4 cm-stukke (jy behoort sowat 8–10 uit te kry). Druk en rol elke stukkie totdat jy ’n langer reep of worsie kry en knoop elke stukkie deeg losweg. Bedek weer met gesmeerde kleefplastiek en laat staan dit vir nog ’n uur of twee in die yskas.

5 Druk die knope deeg effens platter met jou rolstok op ’n meelbestrooide oppervlak. Rol nou die knope uit in plat sirkels sodat dit soos pannekoeke lyk. Bedek die deeg dat dit nie uitdroog nie. Verhit olie in ’n braaipan en braai die roit’s een op ’n slag tot goudbruin aan die onderkant (sowat 1 tot 2 minute); draai om en braai die ander kant ook tot goudbruin. Haal die roti uit die pan en frommel dit op soos wat jy ’n stuk papier sal opfrommel. Dis belangrik om dit te doen terwyl die roti nog warm is – gebruik kombuispapier as jou hande brand. Die rede hiervoor is om ’n plooibare, hanteerbare roti te kry wat maklik gerol en gevou kan word. Hou warm terwyl jy die ander roti’s braai.

Wat is ghee?
Ghee is ’n verhelderde botter en word meestal met Indiese kookkuns geassosieer. Maak jou eie deur botter in ’n klein kastrol te verhit tot kookpunt. Die botter skei dan onoplosbare melkbestanddele en water af, wat afgeskep word totdat net die heldergeel vloeistof oorbly. Ghee het ’n hoër brandpunt as botter en het ’n neutagtige geur met ’n ryk aroma.