1 Sit die eiers in koue water in ’n kastrol, voeg ’n knippie sout en koeksoda by en bring tot kookpunt; kook vir 4 minute. Dreineer en sit dadelik in yswater om die gaarmaakproses stop te sit. Dop die eiers af en hou in die yskas tot nodig.

2 Kook die aartappels in soutwater tot gaar. Smelt die botter en olie saam in ’n pan en braai die knoffel, gemmer en mosterdsaadjies saam tot geurig. Roer die gaar aartappel, borrie, kerrie, uie, brandrissie, kerrieblare en murgpampoentjies by en braai vir 5 minute. Verwyder van die hitte en druk die roerbraai fyn met ’n vurk om ’n growwe kapok te vorm. Maak die mengsel plat op ’n bord en sit sommer in die yskas om vinnig af te koel.

3 Verdeel dan die koue kerriekapok in ses gelyke dele. Druk die eerste hoeveelheid plat op jou handpalm, sit ’n gekookte eier bo-op en vorm versigtig die aartappel rondom die eier tot heeltemal bedek. Maak seker daar is nêrens ’n gaatjie nie. Herhaal met al 6 eiers.

4 Doop nou die eiers eers in meel, dan in die geklitste eier en rol dit dan in die krummels. Verhit olie 3cm diep in ’n kastrol en braai die eiers daarin tot mooi goudbruin buite en deurwarm – die vulsel is mos gaar. Dis heerlik met ’n paar druppels suurlemoen en jogurt.