Genoeg vir: 4-6 porsies

Bereidingstyd: 45 minute plus marineringstyd

Gaarmaaktyd: 35-40 minute

Bestanddele

•   10-15 hoenderdyfilette, afhangend van grootte

•   15 ml matige kerriepoeier

•   250 ml ongegeurde jogurt

•   1 groot ui, gesny

•   1 groen soetrissie, in blokkies gesny

•   100 ml botter

•   4 kardemompeule, oopgesny

•   2 kaneelstokkies

•   5 knoffelhuisies, gekneus

•   1 duimgroot stuk vars gemmer, gerasper

•   10 ml garam masala

•   5 ml borrie

•   15 ml kerrieblare

•   2 groen brandrissies, gesny

•   1 groot, ryp tamatie

•   45 ml tamatiepasta

•   5 ml suiker

•   500-750 ml hoenderaftreksel, verkieslik tuisgemaak

•   sap van een suurlemoen

•   250 ml room

•   vars koljanderblare

So maak jy

Tuis-Kerriebotterhoender-stap-1

Stap 1: Plaas die hoenderstukke in 'n mengbak en vryf die kerriepoeier in die vleis in. Roer die jogurt deur die filette, bedek dit en plaas in die yskas om te marineer, verkieslik oornag.

Tuis-Kerriebotterhoender-stap-2

Stap 2: Soteer die ui en soetrissie in die botter tot sag. Voeg die kardemom, kaneelstokkies, knoffel, gemmer, garam masala, borrie, kerrieblare en brandrissie by en roerbraai vir sowat 1-2 minute of totdat al die geure ontwikkel het.

Tuis-Kerriebotterhoender-stap-3

Stap 3:  Sny 'n kruisie in die tamatie se skil, giet kookwater oor en trek dan die skil af. Kap die tamatie en voeg dit saam met die tamatiepasta, suiker en 500 ml van die aftreksel by die bestanddele in die kastrol. Prut vir sowat 10 minute.

Tuis-Kerriebotterhoender-stap-4

Stap 4: Vee die oortollige marinade van die hoenderdyfilette af en panbraai die hoender tot goudbruin in 'n riffelpan of gewone braaipan.

WENK Die hoender kan met 'n kwassie ge-olie word voordat jy dit op 'n riffelpan braai om te keer dat dit vassit. As jy dit in 'n gewone braaipan braai, kan jy eers 'n bietjie olie in die pan verhit.

Tuis-Kerriebotterhoender-stap-5

Stap 5: Voeg die hoender, suurlemoensap en room by die bestanddele in die kastrol, geur na smaak met sout en peper en bring tot kookpunt. Voeg nog aftreksel by, indien nodig, en laat prut sowat 35 minute of totdat die hoender gaar en sag is. Sprinkel koljanderblare oor en sit voor saam met rys en sambal.