Hierdie Franse vla-nagereg is almal se gunsteling! Jy kan dit ’n dag vroeër maak, in die yskas bêre en brand net voor jy dit voorsit. En gaste is mal daaroor om die blaasvlamtegniek te aanskou!

crème-brûlée-nuusbrief

Resep deur Ilse van der Merwe – www.diekosvos.co.za

  • 500 ml vars room
  • 2,5 ml vanielje-ekstrak
  • 4 ekstragroot eiergele
  • 45 ml strooisuiker (plus ekstra vir die karamelbolaag)
So maak jy ... https://youtu.be/RkCT1L6eCSE 1. Voorverhit die oond tot 150 °C. Sit 4 mediumgroot koppies (of ramekins van 180 ml) in ’n diep roosterbak en kook ’n ketel water. 2. Sit die room en vanielje-ekstrak in ’n klein potjie en verhit tot jy net-net nog jou vinger daarin kan druk (daar moet stoom uittrek, maar dit moenie kook nie). 3. Klits intussen die eiergele en strooisuiker met ’n draadklitser tot dit goed gemeng is. Gooi die warm roommengsel bietjie vir bietjie by die eiermengsel terwyl jy aanhoudend roer met die draadklitser. Skep enige skuim af wanneer dit goed gemeng is en verdeel dan die mengsel tussen die vier koppies. 4. Gooi nou die kookwater in die roosterbak tot sowat halfpad teen die koppies op. Sit dit versigtig in die oond en bak vir 45 minute. Haal versigtig uit en laat afkoel op ’n draadrak. Dit moenie heeltemal gestol wees nie, maar moet ook nie te loperig wees nie. 5. Wag tot die koppies heeltemal afgekoel het en verkoel minstens 2–3 uur sodat dit heeltemal stol.

6. Wanneer jy wil voorsit, strooi ’n lepel strooisuiker oor elke nagereg en gebruik ’n blaasvlam om dit versigting te karamelliseer. Sit dadelik voor, want die karamel sal ná ’n ruk smelt.