1 Stamp al die speserye saam fyn in ’n vysel. Verwyder die vel van die hoenderdye (hou eenkant), ontbeen die hoender en sny die vleis in blokkies. Meng die hoender met die speserymengsel en laat 15 minute eenkant staan terwyl jy die res van die bestanddele gereed kry.

2 Verhit ’n pan tot warm en braai die hoendervel stadig tot bros. Die vet sal uit die vel braai en die pan genoeg smeer om die hoender daarin gaar te maak. Voeg die hoenderblokkies by, hou die hitte matig en braai tot gaar. Skep die vleis uit die pan, laat effens afkoel en kap rofweg kleiner; hou eenkant.

3 Voeg sowat 15 ml olie by die pan en braai nou die kerrieblare, knoffel, gemmer en rissie in die vet vir ’n halwe minuut. Roer die prei, wortels en sampioene by en roerbraai vir ’n paar minute totdat die groente net begin glans kry. Stoot die groente eenkant in die pan en voeg die eier by. Maak roereier (dit neem minder as ’n minuut), roer die roti’s of parathas en die gaar hoender by en meng deur. Roerbraai nou alles saam vir sowat 5 minute tot geurig en sit dadelik voor met sojasous na smaak en die klappersambal.

Wenke

• Jy kan tyd spaar deur hoenderdyfilette te koop en dit dan eenvoudig in olie braai, pleks van self die vet uit die vel te braai.

• Kyk uit vir parathas in jou supermark se vrieskas. Die dun, skilferige Indiese platbrood word soms rou en bevrore verkoop, maar dis maklik om die klaar bereide deeg te laat ontdooi en in ’n bietjie olie te braai tot goudbruin en opgepof.

Klappersambal

As jy nie ’n vars kokosneut in die hande kan kry nie, gebruik gerus gedroogde klapper. Ek het ’n resep uit S is for Sri Lankan van Quadrille Publishing as vertrekpunt gebruik en van die bestanddele se verhoudings aangepas. Meng ½ ui, baie fyn gekap, 5 ml gedroogde brandrissievlokkies, 10 ml vissous, 5 ml sout en die sap van 1 lemmetjie tot ’n pasta. Voeg 1 oorvol koppie varsgerasperde klapper by en meng deur. So maklik soos dit. ’n Strooisel vars koljander is glad nie tradisioneel nie, maar vir my heerlik hierby.