1. Verhit ’n bietjie olie en botter saam in ’n groot kastrol en braai die uie en wortels oor lae hitte tot glansend. Voeg die komyn, kardemom, rissie en paprika by en braai oor lae hitte tot geurig. Roer die vleis deur. Strooi nou die borrie, masala, knoffel en gemmer bo-oor die vleis. Sit die deksel op en laat prut oor stadige hitte totdat ’n dikkerige pasta vorm; roer dan deur. Voeg ’n bietjie water by indien nodig. Laat prut rustig totdat die vleis gaar en sag is (sowat 3 uur).

2. Voeg die vars koljanderblare by die vleis en skep dit in ’n oondvaste bak. Laat effens afkoel, proe vir sout en peper.

3. Verf elke vel fillo met botter en stapel al vier op mekaar. Vou in kwarte en knip met ’n skerp skêr hier en daar om die rande vormpies uit (soos vir ’n papiersneeuvlokkie).Dié stap is opsioneel, maar speels en mooi. Bedek die pastei met die deeg en vou die ekstra deeg om die rande in. Verf die bokant van die pastei ook met botter en bak vir sowat 15 minute of tot goudbruin en bros. Sit voor met geelrys en tamatiesambal.

Wenk Voeg ’n knippie saffraan by jou rys terwyl dit kook om die goue kleur te kry en garneer dit met granaatrobyne en geroosterde amandelvlokkies vir ’n feestelike voorkoms.

Reënboog-sambal

Halveer sowat 200 g reënboogkersietamaties en kap 1 klein rooi ui fyn. Sny 4 vet radyse in dun skyfies. Meng met sowat 30 ml olyfolie, 45 ml rooiwynasyn en ’n strooisel vars basilie- en koljanderblaartjies. Geur met sout, peper en ’n knippie suiker. Laat staan vir minstens 30 minute sodat die geure kan trou.